Verlede maand
So by my kool! dis ’n wenplan
SPANWERK: Die twee broers se tuinprojek gee aan ander jong mense in die gemeenskap ook die geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer.  ~ Jonathan Lestrade

MENSE ly honger ...

Dít het twee broers van Trinity Place in Elsiesrivier geïnspireer om in hul eie agterplaas groente te plant.

Vir Valentino de Klerk (20) en Geronimo, sy jonger boetie, was dit ’n gesprek wat maande geneem het voordat hulle hul eerste saadjie in Augustus 2020 gesaai het.

Nou is hul grootste droom om binnekort hul eie plaas te besit.

“Ek bly 20 jaar hier. Ek weet hoe dinge hier gaan en watter struggle die gemeenskap face en wat vir hulle afbring.

“Die pandemie het ook daartoe bygedra en het vir ons die idee gegee om die projek te begin om ’n verskil en ’n positiewe bydrae te maak,” vertel Valentino.

Hy sê daar is elke dag kinders wat sonder kos sit en werkloosheid is ook ’n groot probleem onder die jong mense.

“Daar is nie baie mense wat hulself kan voorsien van kos of geld nie. So, deur dié projek kan ons help op iets op hul te tafel te sit,” sê hy.

Geronimo sê hulle kweek allerlei groentes wat in seisoen is, maar hulle het ook 33 vrugtebome.

“Dit is nie hul seisoen nie, maar ons stoor dit om ’n mooi oes te kry wat ons aan die gemeenskap se sopkombuise en voedingskemas kan gee,” sê hy.

Die broers sê hulle het hul groente eers in Elsiesrivier verskaf en nou gee hulle aan verskeie gemeenskappe tot in Nyanga en Khayelitsha.

“Op hierdie oomblik kan ons nie almal ondersteun nie, maar ons verskaf ook groente aan verskeie skole,” sê hy.

Geronimo sê hulle het nou al vyf tuine en maak gebruik van die Backabuddy-platform om geld in te samel om meer voorraad in te kry.

“Ons koop saad en kompos. Dan kry ons ook baie donasies wat ons aan die­gene gee wat na die ander tuine omsien,” verduidelik hy.

Tafel

Valentino sê die projek het al baie jong mense gelok wat ook daagliks na hul tuin toe kom om te leer.

“Ons wil hê jong mense moet selfonderhoudend word dat hulle nie hoef te wag vir kos nie. Hier leer hulle om hul eie groente te plant, oes en elke dag iets op die tafel te hê.”

Die broers sê hulle het nooit gedink hul projek sou so ’n groot impak maak nie.

“Ons het besef ons het daardie eienskappe om ’n verskil te kan maak.

“Dit is ’n lekker gevoel en ons hoop om baie ander te inspireer om selfonderhoudend te word,” sê Valentino.

  • Kyk gerus vandag 18:00 op son.co.za na Son se eerste dokumentêr oor die lewensomstandighede van plaaswerkers.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters