2 maande gelede
Skrywer woeker in lockdown
SPOGGERIG: Jeff Lakey met sy pennevrug wat tydens die ­lockdown gestalte gekry het.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Jeff Lakey laat op 77 sy eerste storieboek die lig sien.

Lakey, ’n oud-onnie, het in sy leeftyd reeds 11 digbundels uitgereik.

Sy boek Stories Nooit Vertel is onlangs gedurende ’n geleentheid by die toerismekantoor bekendgestel.

Dié boek oor sy kontrei se mense is iets waarop die gemeenskap en Lakey baie trots is.

Wat die boek so besonders maak, is dat Lakey die boek gedurende lockdown geskryf het.

“Ek het hierdie boek met pen en papier oor ’n tydperk van drie maande geskryf,” vertel Lakey.

Verklap

Volgens Lakey handel die boek se meer as 70 stories oor die geskiedenis en staaltjies van Bo-dorp se mense.

“Jy sal maar self die stories moet lees, want ek wil nie nou so baie daaroor verklap nie,” sê hy.

“Ek wil net sê dat ek jou as joernalis ook in een van die stories ophaal,” lag hy.

Volgens Lakey dink hy nog nie daaraan om sy pen en papier eenkant toe te skuif nie.

“Ek dink dat daar binne die volgende drie jaar nog ’n uitgawe die lig sal sien.”

Lakey sê daar is iets anders ook in die pyplyn.

“Dit sal ’n groot verrassing wees,” beloof hy.

Mense wat graag ’n eksemplaar wil bekom, kan Lakey by 072 317 3026 bel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters