2 maande gelede
Skoolkinders is te verheug
DANKBAAR: Danksy die Golden Anchor Solid Rock-stigting se program het heelwat kinders nuwe skoolrugsakke ontvang.  ~ Foto Verskaf

TEN spyte van al die slegte nuus en uitdagings wat ons almal tans moet deurmaak, is daar darem nog goeie nuus.

Vra maar vir die behoef­tige skoolkinders van Sout­rivier wat vandag almal breed glimlag.

Die kinders is Saterdag almal met splinternuwe rugsakke verras. Dié donasies is deur Pep moontlik gemaak.

Danksy die donasies van die Food Relief Alliance of South Africa (Frasa) kon hulle ook aan heerlike toebroodjies smul terwyl Food Forward SA vir die nagereg gesorg het.

Volgens Khanyisani Ma­thanda van die Golden Anchor Solid Rock-stigting het die biblioteek van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) ook ’n donasie gemaak. Mathanda sê dié donasie gaan hulle in staat stel om boek-projekte van stapel te stuur.

“Die oggend was ’n reusesukses en die kinders sien verskriklik daarna uit om skool toe te gaan met die nuwe rugsakke en inkleurboeke wat hulle ontvang het,” het Mathanda gesê.

Golden Anchor Solid Rock is deur Gerald Louw begin en met die onlangse Mandeladag-vieringe het die stigting ook met ’n voedingsprojek na kinders in die Woodstock- en Soutrivier-omgewing uitgereik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters