2 maande gelede
Skooljoernaliste kry 15 rekenaars
Jean Buys (Shoprite IT Manager) and Shoprite CSI M
OGPEWONDE: Jean Buys (Shoprite se IT-bestuurder) en Lunga Schoeman (Shoprite se CSI-bestuurder) saam met van die leerders van die Hoërskool Sarepta.  ~ foto verskaf

DIE Hoërskool Sarepta in Kuilsrivier het ’n skenking van 15 skootrekenaars van die Shoprite-groep ontvang.

Dis sodat leerders op die redaksie van die skoolkoerant hulle werk kan doen.

Die redaksiespan van 20 moes sedert die skoolkoerant se ontstaan in 2014 met net één rekenaar regkom.

Ondanks dié struggles, ryg hulle die toekennings in.

Die skool se jong aspirant-joernaliste het in 2016 én 2018 toekennings vir die beste skoolkoerant gekry.

Yolanda Basson, skoolhoof, sê hulle is baie opgewonde oor die nuwe toerusting.

“Die donasie is van groot hulp vir ons,” sê Basson.

Sy spog dat hulle nou meer produktief sal kan wees.

“Almal hoef nie meer tydens die produksieproses te wag vir mekaar om die rekenaar te gebruik nie. Elkeen kan nou op sy eie werk.”

Basson sê toe die skoolkoerant begin het, was die eerste uitgawe net een blad.

Teen twee jaar later was daar kwartaalliks ’n volle koerantjie.

Die koerantspan bestaan uit leerders van gr. 8 tot gr. 12.

Lunga Schoeman, Shoprite se CSI-bestuurder, sê hulle tree op vir verandering in die gemeenskappe wat hulle dien.

“Toe ons die versoek kry om rekenaars aan die skool te skenk, moes ons net help.”

Schoeman sê hulle IT-afdeling het die nodige gedoen om die rekenaars op te stel sodat die leerders dit kan gebruik.

Só kan hulle hul bekroonde koerant met groter gemak vervaardig en aanhou pryse wen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters