Verlede maand
Skenking gee leerders kans in digitale wêreld
J2
Getruida van Klaasvoogds Primêr ontvang 'n laptop.  ~ Foto Verskaf

DIE kubersekuriteitspesialiste J2 het onlangs laptops aan Rural Reach, ’n organisasie sonder winsbejag, geskenk.

Rural Reach werk tans saam met drie klein plattelandse skole. Die skole wat gaan baatvind by die skenking is Lepelsfontein Primêr in die Noord-Kaap, Buffelskloof Primêr buite McGregor en Klaasvoogds Primêr buite Robertson.

John McLoughlin, uitvoerende hoof van J2, sê Rural Reach het wonderlike inisiatiewe. 

“Dit is vir ons baie opwindend om toegang tot hulpbronne te gee aan die jongmense met wie ons in plattelandse gemeenskappe werk," sê McLoughlin.

"Jongmense het geen kans om die digitale wêreld te floreer as hulle nie daardie toegang het nie.”

McLoughlin sê dinge wat baie mense as vanselfsprekend aanvaar, soos om ’n CV op te stel of ’n aanlyn-aansoek te doen, is onmoontlik sonder die regte toerusting. 

“Ons sien daarna uit om nou saam met hulle te werk en te sien hoe ons ’n klein, maar betekenisvolle, verskil in die lewens van jongmense in hierdie gemeenskappe kan maak,” sê hy.

Morgan de Klerk, medebesturende direkteur van Rural Reach, sê Rural Reach is in 2018 begin toe sy en haar man besef het baie plattelandse gemeenskappe word afgesonder, verwaarloos en benadeel. 

“Hulle het nie eens toegang tot basiese benodigdhede soos lopende water of elektrisiteit nie.”

Met die ondersteuning van maatskappye soos J2, is Rural Reach van plan om praktiese ondersteuning te gee op die gebied van gesondheid, onderwys en werkskepping in uitgesoekte plattelandse gemeenskappe.

De Klerk sê die laptops gaan help om kwartaallikse verslae en algemene kommunikasie per e-pos voor te berei en in te dien. 

Volgens haar moes hulle voorheen die verslae uitskryf en moes hulle die verslae fisies gaan afhaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters