Verlede maand
Sjef pluk nou die vrugte
topsjef: Ferdinand October se drome word waar.FOTO VERSKAF  ~ 

WEENS omstandighede moes Ferdinand October uit die skool drop en het hy begin om shopping trollies by ’n supermark rond te stoot.

Maar vanjaar gaan hy ’n mylpaal bereik.

October (34) kwalifiseer vanjaar by ’n kookskool. Hy het ’n permanente werk as Chef de Partie gekry en dít nogal by die deftige Lord Charles Hotel naby Somerset-Wes.

Dis waarlik ’n storie van volharding en van iemand wat nooit opgegee het om bo uit te kom nie – ongeag die struikelblokke in sy lewe.

October van die Strand vertel nadat hy met trollies gewerk het, het hy ’n job as skoon­maker gekry.

“Ek het in die bakkery-afdeling by die supermark gewerk. It was love at first sight.

“Ek het die bakkers gesien werk en was gefassineer deur wat hulle doen. Dis toe dat ek besef het dis wat ek wil doen.

“Die deeg en brood het my gefassineer en ek wou weet hoekom reageer deeg en gis in ’n sekere way.”

Toe hy as ’n bakker se assistent aangestel is, het hy gevoel sy drome word waar en hy is vir ’n bakkursus na Seta gestuur.

October was bereid om lang ure te werk en het soetgoed begin berei.

Hy is bevorder en het ’n bakkery-afdeling by ’n nuwe winkel in die groep oopgemaak.

Die lewe was goed vir October, maar hy was nog nie tevrede nie.

“Ek het besef as ek wil vordering maak in wat my passie is, sou ek moes bedank uit my permanente werk en weer ’n student word.

“Ek moes oor ’n lang tydperk vir verdere opleiding spaar.”

Dit was ’n baie moeilike besluit, omdat October twee van sy jong kinders, sy ouers op pensioen, en twee susters en hul kinders moes versorg.

In 2017 het hy begin om ’n diplomakursus in patisserie by die Capsicum Culinary Studio in Kaapstad te swot.

“Ek is nie jammer oor my besluit nie. Daar is wonderlike geleenthede as ’n sjef.

“Dis vir jouself om te besluit en as jy moeite doen, kan jy ver kom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters