2 dae gelede
Sentrum se projek pak nood
HELP ONS: Nolene Afrika (links) en Judine van der Vent, twee personeellede by die sentrum, met die sakke wat hulle maak en verkoop om geld in te samel.  ~ Foto Verskaf

DIE Emmanuel-dagsorgsentrum in Atlantis is goed op pad om sy doel te bereik om geld in te samel vir die beveiliging van die sentrum.

Son het twee weke gelede berig oor die onlangse vandalisme en inbrake by die sentrum en hoe dit die werknemers beïnvloed.

Dit het hulle hopeloos en teleurgesteld gelaat. Maar die bestuur het besluit om nie net agteroor te sit en vir die beste te hoop nie.

Joyce Anderson, bestuurder van dié sentrum wat die mees kwesbare mense in hul gemeenskap help, en die personeel het besluit om ’n fondsinsamelingsprojek te begin. Hulle het begin om pragtige lapsakke te maak en maak gebruik van herwinbare materiaal.

Die sakke word dan verkoop en die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om diefwering te koop, sowel as ’n industriële naaimasjien.

Uitgawes

Anderson het vroeër in die week aan Son ’n brief gestuur waarin sy sê as gevolg van die berig het hulle ’n skenking ontvang van broodnodige materiaal, zips en katoen van ’n Samaritaan in Elsiesrivier.

Anderson sê verder die sentrum sorg vir kinders tussen die ouderdom van 2 jaar en adolessensie wat fisieke­ en intellektuele behoeftes het.

“Alhoewel ons dienste gesubsidieer word, dek dit nie al ons uitgawes en lopende koste nie.

Nederigheid

“Daarom moet ons altyd van ons kant af inspring om geld in te samel om volhoubaarheid en groei te verseker.

“Dit is inderdaad met diepe nederigheid dat ons dankie sê dat Son altyd op hierdie groot manier na ons uitreik. Dankie dat Son ons help in tye van nood,” lees die brief.

As enigiemand daarin belangstel om die sentrum te help geld insamel deur ’n sak of twee te koop, bel Anderson by 072 632 4737.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters