3 maande gelede
Samewerking blom in buurt
SPANWERK: Anthea Fisher (voor) het die inisiatief geneem om die tuin te begin.  ~ Jonathan Lestrade

“DAAR is ook mooi dinge wat in ons gemeenskap gebeur.”

Só sê Anthea Fisher (31) van Scottsdene in Kraaifontein wat laas week die inisiatief geneem het om ’n gedeelte van haar straat reg te ruk deur ’n tuin aan te lê op die hoek van die straat waar sy woon.

“ ’n Maand gelede het ek aan my ma en ’n antie gesê ons moet hier ’n tuin maak.

“Ons het heeltyd vir mekaar gesê ons moet begin, maar ons het nooit daarby uitgekom nie.

“Dis eers laas week Vrydag toe ek en nog iemand anders sommer net begin spit het hier op die hoek.

“Dit was ’n groot bos. Daar was rommel en riool, maar dit het ons nie afgesit nie.

“Dit het ons sommer gemotiveer om verder skoon te maak,” vertel Fisher.

Sy sê dit was nie lank nie, toe kom daar nóg inwoners om te help. Dit het haar verder gemotiveer.

“Ek het baie goed gevoel dat die ander inwoners my ondersteun en dat ons dit sommer saam kan doen.

“Ek het een antie geroep wat altyd besig is om te plant in haar tuin. Daar was ander wat ook plante gebring het,” sê sy.

Fisher sê daar was ’n tyd toe sy wou moed opgee oor die hoop vullis in hul buurt.

“Ek het vir myself gesê ek kan nie opgee nie.

“Ek het gebid en vandag staan hier ’n tuin danksy almal se efforts!

Fisher sê daar is so baie dinge wat verkeerd loop in die gemeenskap, maar mense moet onthou daar gebeur ook baie goeie dinge.

“Die jongens het al hier verbygehardloop met guns, maar ek het gesê ons gaan nie padgee nie; ons gaan net aan met wat ons doen.

“Ons het niks met hulle te doen nie.

“Ek wou maar net gewys het wat ons kan maak met wat ons het en ons hoef nie in te gee vir alles wat rondom ons aangaan nie,” sê sy.

help: Inwoners spring in om die tuin in stand te hou.

Fisher doen ’n beroep op haar gemeenskap om saam met haar verantwoordelikheid te neem vir die nuwe tuin.

“Almal kan na die tuin omsien. As jy iets wil plant, kom plant dit.

“As daar vullis lê, tel dit op en as die plante ’n bietjie water nodig het, moenie skaam wees nie – gee water. Dis ons almal se tuin,” sê sy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters