Verlede maand
Sakeman pak nou self nood
DOEN SY DEEL: Tyrone Titus glo daarin om in dié tye in sy community terug te ploeg.  ~ Peter Abrahams

AL KAN sy drankwinkel nie mense se lippe nat hou nie, maak sy kos-besigheid mense se mae vol.

Tyrone Titus, eienaar van T’s Liquor Express in Rocklands in Mitchells Plain en die Utopia Cafe & Lounge, vertel sy aim is om mense gelukkig te hou.

Sedert die begin van die lockdown het Titus geld aan talle sopkombuise geskenk, maar dié keer het hy dit op homself en ’n paar van sy werkers gevat om terug te gee.

Hy verduidelik dat die versoeke vir skenkings oor die paar maande omtrént gestyg het en hy het meer mense gesien bedel vir kos.

“Die versoeke om donasies en kos het so baie geword dat ek nie kon byhou nie,” vertel hy.

Titus werk tans met sy kok, Trinisha Gais, sy seun, Ty­rone jr., en van sy ander werkers om 100 l-potte akhni uit te deel in die gemeenskap waar sy drankwinkel is.

Geïdentifiseer

“Ons inisiatief is van die begin af ’n sukses en is goed ontvang.

“Ons het van 60l-potte gegroei tot 100l. Mense bring hul bakkies.

“Ons het ook die hotspots geïdentifiseer waar mense se nood vir kos baie hoog is.

“Ons begin eers voor die drankwinkel in Rocklands dan maak ons ons way rondom die area.”

Titus glo alle besighede behoort in hul gemeenskappe terug te ploeg.

“Dis dieselfde mense wat ons voor die lockdown ondersteun het wat nou ons ondersteuning benodig.

“Ja, ek verstaan baie besighede het ook uitverloor, maar ons moet ook na ons mense kyk.”

SAMARITANE: Trinisha Gais (links) en die res van die span put groot vreugde daaruit om ander te help. Foto: Verskaf

Gais, die kok, vertel aan Son dat haar hart elke keer 10 keer vinniger klop wanneer hulle kos uitdeel.

“Om die kindertjies se gesigte te sien, beteken alles.

“Dit maak jou hart warm, terwyl jou hart ook breek om te sien hoeveel kindertjies daar is wat honger ly.

“So, vir my is dit ’n plesier om dit te doen,” vertel sy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters