Verlede maand
S3 nou soema A1
Nuuskantoor: Jean Buys (Shoprite se IT-bestuurder) en Lunga Schoeman (Shoprite se CSI-beampte) maak seker die redaksielede van die Hoërskool Sarepta se skoolkoerant is vertroud met hulle stelsel.FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE Hoërskool Sarepta in Kuilsrivier het ’n skenking van 15 laptops van die Shoprite-groep ontvang.

Dis vir die gebruik van die leerders wat redaksielede van die kwartaallikse skoolkoerant, S3 News Buzz, is.

Die redaksiespan van 20 lede moes sedert S3 News Buzz se ontstaan in 2014 met net één rekenaar regkom.

Ondanks dié struggles is hulle met toekennings vereer.

Die skool se aspirant-joernaliste het in 2016 én 2018 toekennings gewen vir die beste skoolkoerant.

Die skoolhoof, Yolanda Basson, sê hulle is baie opgewonde oor die nuwe toerusting.

Basson sê die redaksiespan gaan nou produktiewer wees.

Sy sê: “Hulle hoef nie meer gedurende die produksieproses te wag vir ’n beurt om die rekenaar te gebruik nie.

“Elkeen kan nou op sy of haar eie werk.”

Basson sê toe die skoolkoerant begin is, was die eerste uitgawe net een blad.

Sedertdien, sê sy, het die oplaag en blaaie vermeerder.

Die redaksielede is leerders van gr. 8 tot gr. 12.

Lunga Schoeman, Shop­rite se corporate social investment (CSI) officer, sê hulle dra by tot verandering in die gemeenskappe wat hulle dien.

Schoeman sê: “Toe ons die versoek kry om rekenaars aan die skool te skenk, móés ons net help.”

Schoeman sê hulle IT-afdeling het die rekenaars opgestel spesifiek vir die redaksie se behoeftes.

Hy meen nou kan hulle éérs ’n goeie produk uitgee en nog pryse wen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters