2 maande gelede
Regte keuses bring sukses, sê karate-ster
Maxine Willemse is in 2018 as Karate Suid-Afrika se Sportvrou van die Jaar aangewys.  ~ 

JY is nie ‘n produk van jou omstandighede nie. Jy is ‘n produk van die keuses wat jy maak.

Dié is die wyse woorde van Maxine Willemse, ‘n karatekampioen van Eersterivier wat verlede jaar as Karate Suid-Afrika se Sportvrou van die Jaar aangewys is.

Willemse (24), wat ook 'n BCom-graad in finansies het, het ondanks talle uitdagings in haar grootwordjare sukses behaal.

“Ek het groot geword in ‘n huis waar my ma abuse was. Dit het my emosioneel en sielkundig geknou, maar ook gemotiveer om bo my omstandighede uit te styg.

“Ek plaas altyd my God voor alles wat ek doen en dit is waarom alles net goed gaan vir my.”

Maxine het op laerskool in haar eerste karate-toernooi deelgeneem. Sy het dit gewen en verlief geraak op die sport.

Sedertien het sy al regoor die vasteland aan toernooie deelgeneem.

Sy het in Julie aan die Afrika-Karate-Federasie (AKF) se toernooi deelgeneem waar sy derde geëindig het. In Mei vanjaar het sy 'n goue medalje in kata by die Arnold Classic Africa-sportfees in Johannesburg gewen. 

Verlede maand het sy tweede plek behaal by Karate Suid-Afria se Vrouebeker in Durban.

Maxine sê haar planne vir die volgende vyf jaar sluit in om ‘n tweede graad in finansies te voltooi.

Sy hoop ook om in haar rolmodel, Kiyou Stinizu van China, se voetspore te volg en eendag die wêreldkampioen te word.

Maxine se raad aan vroue is: "Moenie dat omstandighede jou toekoms bepaal nie.

“Elke dag kom met nuwe uitdagings, geleenthede en keuses. Dit hang van jou af wat jy bereid is om te doen vir wat jy wil bereik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters