4 maande gelede
Pure Positiwiteit
goeie werk: Claudia van Schalkwyk bring verandering in mense se lewe. Foto’s verskaf  ~ 

DIE skoonheidsterapeut Claudia van Schalkwyk het ’n traumatiese terugslag beleef toe haar suster Leony Sonja de Wee verlede jaar aan kanker gesterf het.

Maar sy het besluit om hierdie tragedie positief te hanteer en die resultaat is ’n maatskappy sonder winsmotief (NPC) wat daarop gemik is om die lewens van jong meisies te verbeter en hulle te help om ’n loopbaan in skoonheidsterapie te volg.

Nou is die eienaar van die Urban Beauty Academy se NPC, UBA 90 Day Wellness ­Challenge, geregistreer en reg om goeie dade te verrig.

Sy hoofaktiwiteit is ’n gewigsverliesuitdaging oor 90 dae vir “normale mense wat hulle eetgewoontes wil verander en ’n gesonder leefstyl wil volg”.

Die uitdaging bied eersdaags sy derde Big Reveal aan.

Claudia sê die Big Reveal is ’n familiebyeenkoms waar hulle mense wil bewus maak van ’n gesonder leefstyl en mense die tools wil gee om ’n gesonder leefstyl aan te kweek.

“Dit is die hoofdoel, maar ons gaan natuurlik ook ons wenner bekendmaak.

“Ons is nou in Seisoen 3 en het 20 deelnemers. Hulle gaan hulle harde werk van die afgelope 90 dae uitstal in die vorm van ’n modevertoning. Ons het ’n aantal ontwerpers wat klere vir die deelnemers gaan borg.

“Daar gaan ’n mark wees vir gesondheidsgoedere. Belang­stellendes is welkom om hulle ware te kom uitstal. Stalletjies kos R500.”

Deel van die opbrengs gaan gebruik word as beursgeld vir behoeftige studente aan die UBA.

Dis nou al ’n gewoonte dat ’n paar vermaaklikheidsterre deelneem en vanjaar se ster is Karin Kortjé, Idols SA-wenner.

“Sy is baie aktief betrokke en mal oor die uitdaging,” vertel Claudia.

Volgens haar gaan die wellness-program nie keer dat mense kanker te kry nie, maar dit kan tog die risiko ver­minder.

Sasha-Lee Morris is ’n 27-jarige deelnemer van Blue Downs. Sy het 88,2 kg geweeg toe sy begin het. Nou weeg sy 74 kg. Sy het net lof vir die program.

Die Seisoen 3 Big Reveal is van 12:00 tot 17:00 op 19 Mei op die plaas Eaglevlei in Stellenbosch.

Kaartjies is teen R50 stuk by quicket.co.za verkrygbaar. Toegang by die hek kos R60. Kinders onder 12 kry gratis toegang. Kontak UBA by 021 829 9432 of e-pos admin@urbanbeauty.co.za vir meer inligting of om 'n stalletjie te huur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters