Verlede maand
Puik diens, dis net hoe hy rol!
VASBERADE: ’n Rystoel keer sers. Morné Olifant nie om sy gemeenskap te dien nie.  ~ Foto Verskaf

’N COP van Bishop Lavis is ná sewe jaar nog nie spyt hy is terug werk toe nie – al het ’n ongeluk hom verlam gelaat.

Sers. Morné Olifant (40) het in 2013 in ’n duikongeluk by Mnandi Beach sy nek gebreek en is sedertdien aan ’n rolstoel gekluister.

Aanvanklik kon Olifant nie sy bene of hande gebruik nie en hy moes van voor af leer skryf.

Volgens Olifant het dit vir hom gevoel sy hele lewe het verander en hy wou nie teruggaan werk toe nie.

Hy het hom in 2004 by die polisie aangesluit en is sedertdien in die stasie in Bishop Lavis gestasioneer.

Olifant sê: “Ek was meer as ’n jaar by die huis. Ná vele rehabilitasiesessies by die Lentegeur-hospitaal kon ek weer my hande gebruik.

“Ek wou nie teruggaan werk toe nie, maar die ondersteuningsgroep by die Bishop Lavis-polisiestasie het my aangemoedig om terug te keer. En vandag is ek nie spyt nie.

“Ek het nou die kans om die gemeenskap van Bishop Lavis en Valhalla Park te dien. Ek werk tans in die aanklagkantoor en neem die mense se verklarings af.

“Voorheen kon ek net verklarings beëdig omdat ek nog gesukkel het om reg te skryf.

“Toe ek ná my ongeluk terugkeer werk toe, het ek as ’n telefoonoperateur gewerk, maar ek het myself gemotiveer om weer te skryf.

“Ek kon ook die nuwe konstabels in die aanklagkantoor touwys maak. Dit het my baie plesier verskaf.”

Een van sy kollegas, lt. kol. Berket Mohamed, waarnemende bevelvoerder van sigbare polisiëring, sê: “Hy was ’n baie aktiewe cop en het daarvan gehou om die gemeenskap van Bishop Lavis te dien.

“Sy hele lewe het met ’n duikongeluk by Mnandi-strand verander. Hy het sy nek gebreek en was heeltemal verlam.

“Hy het gesukkel om vrede te maak met die feit dat hy nie weer sal kan loop nie.

“Hy kon homself nie sien as ’n cop in ’n rolstoel nie, maar sedert sy ongeluk het hy baie goeie vordering gemaak.

Bevorder

“Hy doen tans ’n uitstekende job in die aanklagkantoor, waar hy mense se verklarings afneem.

“Hy is ook in 2014 tot ’n sersant bevorder.”

Volgens Mohamed wou hulle Olifant oorplaas na Strandfontein, waar hy woon, oor dit makliker sou wees om by die werk te kom. Olifant het daarop aangedring om by die Bishop Lavis-polisiestasie te bly en die gemeenskap daar te dien.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters