10 maande gelede
Projek bring goeie dae terug
LEKKER! Bejaardes sit aan vir kos ná ’n dag se harde werk. Foto: KEITH MEYER  ~ 

ZOAR. – Dis weer tyd vir outydse koekies, jam, pitte-koffie, koek en tuisgebakte brood.

Dís die doelwitte van die Genesis-gemeenskapsprojek onder leiding van die ATKV se kultuurman, Jonathan Jantjies.

Jantjies vertel: “Ons keer met die bejaardes weer terug na daardie waardes wat besig is om te verdwyn in die moderne eeu van tegnologie.

“Maar ons het vasgestel dat daar steeds ’n hunkering in die harte en siele van hierdie bejaardes is.

“Man, hulle wil weer koekies bak soos toe hulle nog jonk was.”

Zoar was bekend vir sy vyeprodukte en dít het deur die jare verlore gegaan.

“Nou gaan daar weer vye jam, gedroogde vye en aalwyn jam gekook word,” vertel Jantjies.

Leer

Die groep gaan ook poog om, soos in die ou tyd, ertjies op ’n vloer te trap en resepte van die misvloer se dae weer uit die ou bokse te grawe.

Ouma Anna sê: “Ons moet dié vir die jeug leer.

“Want deesdae moet ouma en oupa mos net kleinkinders oppas, en ons oues wil ons laaste jare saam met ons Hemelse Vader geniet.”

Volgens Jantjies hou die bestuur van die projek die senior burgers ook besig met Bybelstudie en naald- en handwerk.

Die handgemaakte goed word dan weer verkoop.

Twee dae per week word daar kos aan die leergierige span seniors voorgesit.

Die stories van die ou dae gaan hopelik ’n boekvorm sien.

Breyten Johannes verskaf gratis vervoer aan die wyse gryses.

  • Mense wat graag by die projek betrokke wil raak, kan Jantjies by 060 882 0017 bel.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters