22 dae gelede
Plesier, vir seker
SPOGGERIG: Shantel Moses op die MSC Orchestra se dek 13, waar die live shows gehou word.  ~ Foto Verskaf

WAAR kan jy entertainment vir die hele familie kry terwyl julle nuwe plekke verken?

Op die luukse passasierskip MSC Orchestra, natuurlik.

Dié skip het verlede naweek vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse waters gevaar.

Die launch van die MSC Orchestra se Suid-Afrikaanse nooiensvaart is Saterdag met ’n swierige affêre in Durban gevier.

Meer as 2 000 mense het die geleentheid bygewoon.

Gaste is bederf met ’n gratis buffet-middagete en ’n teater-vertoning, gevolg deur ’n elegante gala-aandete. Daarna is die gaste ook vermaak met ’n performance van die sanggroep Mi Casa en die Kaapse DJ’s Pascal en Pearce.

Kurt Darren het ook ’n gasverskyning gemaak.

Kapenaars kan self van volgende jaar af die luuksheid van dié passasierskip ervaar. MSC bied 39 ritte oor die volgende ses maande op die Orchestra aan na onder meer Mauritius, Walvisbaai, en Portugese Eiland.

Die skip het 13 dekke met plek vir 3 225 passasiers. Dit bied ’n verskeidenheid fasiliteite en aktiwiteite, wat ’n spa, twee swembaddens en drie jacuzzi’s, ’n gym, casino en ’n teater insluit.

Daar is ook vyf restaurante en ag kroeë waar ’n mens jou dors kan les. Elke restaurant het sy eie look en feel.

Volgens MSC se besturende direkteur in Suid-Afrika, Ross Volk, het bootreise as ’n vakansie met 25% gestyg vanjaar. Meer mense kies dié uitweg omdat dit kos, akkommodasie en aktiwiteite insluit.

Kinders onder 18 reis verniet as hulle ’n cabin met hulle ouers deel. Plaaslike reise kan van drie nagte tot 11 dae aanhou.

“Suid-Afrikaners het klaar gewys hulle hou van cruises en dié pragtige skip sal niemand teleurstel nie. Ons weet elkeen sal dit op die Orchestra geniet.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters