Verlede maand
Plek vol hoop en vreugde
BESKERMING: Na-eema en haar man, Fariek Samuels, se huis is ’n plek van veiligheid.  ~ Jonathan Lestrade

’N PLEK van hoop en vreugde waar almal ’n tweede kans in die lewe kry.

Dít is hoe Na-eema Samuels, die stigter van House of Grace in Macassar, se huis beskryf kan word.

Die afgelope 11 jaar is haar deure oop vir een en elk, kind of volwassene, wat hulself onder moei­like omstandighede bevind.

Samuels sorg daagliks vir jong kinders wat uit hartseer omstandighede kom en ’n plek van veiligheid benodig.

Haar safe house is vir hulle ’n plekkie waar hulle kan slaap, speel en kind wees.

“Ek het deur ’n egskeiding gegaan en toe dink ek ek moet dinge in my lewe verander,” vertel sy.

“Ek het na child welfare gegaan en vir hulle gesê as hulle ’n volunteer soek, is ek beskikbaar.

“Ek het toe kursusse gedoen daar by hulle.

“In daardie tyd het ek gesien hoe die social workers rondval wanneer hulle kinders verwyder en hoe hulle koppe bymekaarsit oor waarheen die kind moet gaan.

TUIS: Na-eema Samuels bring baie tyd saam met die kinders deur. Hulle lees, speel en kuier saam. Foto: Jonathan Lestrade

Samuels sê die eerste kind na wie sy gekyk het, was ’n week oue baba. Sy het toe besef daar is families wat nie betrokke wil wees in hul eie kinders se lewe nie. Ander weet nie hoe om na daardie kind te kyk nie.

“Dit was nie maklik nie, maar ons het na haar gekyk. Sy het die reg gehad om na omgesien te word.

“Dit was ’n groot aanpassing, maar dit is die moeite werd.”

Nood

Samuels sê hoewel dit nie ’n maklike taak is om na kinders te kyk nie, is dit haar grootste passie om kinders te beskerm en mense te ondersteun wat swaarkry en in abusive huishoudings verkeer.

“Ek weet nie of ek enige iets anders kan doen nie. Die nood is so groot vir plekke soos my huis.

“Ons kan nie ons rug keer op mense wat sukkel in die lewe nie. Hulle almal verdien ’n beter ervaring.”

Volgens Samuels is haar huis oop vir een en elk wat ’n plek van veiligheid soek.

“Ek wys niemand weg nie. Hier gaan dit nie oor waarvandaan jy kom nie, maar hoe ons jou kan help met jou toekoms.”

VEILIG: Na-eema Samuels by een van die vele kindertjies na wie sy omsien. Foto: Jonathan Lestrade

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters