5 dae gelede
Petro wil droom laat waar word
DROOM: Petro Gordon wil ’n huis van veiligheid vir vroue en kinders open.  ~ Foto Verskaf

DIS ’n jare lange droom van Petro Gordon van die Paarl om vir kwes­bare mense ’n huis van hoop te gee.

Gordon (54), ’n rubriekskrywer vir Son, sê sy droom al baie jare om ’n huis van veiligheid te open vir kinders en vroue in die Paarl.

Gordon het 10 jaar gewerk by Hospice, waar sy gesien het wat baie kinders en vroue moes deurmaak – euwels soos mishandeling en verwaarlosing.

“Ek het gesien hoe ge­broke die huise is en die vroue en kinders bly meestal in sulke omstandighede, want hulle het nêrens anders om heen te gaan nie,” sê sy.

Gordon self kom uit ’n abusive verhouding en dis waar sy besef het sy wil ander help wat in dieselfde situasie is. Sy het tóé al die begeerte gehad om ’n huis van veiligheid vir hierdie mense te skep.

Gordon het nou ’n Backabuddy-veldtog begin om geld in te samel om haar droom te laat waar word.

Sover het sy nog geen skenkings ontvang nie, maar klomp beloftes van mense wat sê hulle sal graag wil help.

“My hart breek vir ál die vroue wat uitreik na my vir hulp en selfs diegene wat in situasies is waar hulle nie kan wegtrek uit hul huis nie omdat hulle te bang is.

Kairos

“My droom is om iemand daar buite te help. ’n Vrou, ’n kind ... om hulle hoop te gee en ’n plek van veiligheid te gee.”

Gordon het al ’n naam vir die huis – Kairos House of Hope.

Kairos is ’n antieke Griekse woord wat “die perfekte tyd” beteken.

Sy hoop en vertrou nou net dat mense haar sal ondersteun om haar droom te bewaarheid.

Diegene wat wil help, kan na backabuddy.co.za/champion/project/petro-gordon gaan om skenkings vir die veldtog te maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters