13 dae gelede
Personeel vereer
WENNERS: Die huishoudelike helpers is vereer. Van links staan Mikhial Coetzee, Mariana Myburgh, Anna Noordeman, Johanna Wiesie, suster Francilene Marthinus, Nomlindo Ntshikila, Maureen Jooste, Eliza Moses, en Siviwe Kholisile.  ~ Laticia Pienaar

DIE Tygerberg Hospitaal het onlangs die eerste keer pryse uitgedeel aan bystandverpleegpersoneel.

Talle personeellede het die First Service Excellence Awards vir bystandverpleging ontvang.

Die volgende kriteria is toegepas:

1. die Batho Pele-beginsels: positiewe houding teenoor kollegas, pasiënte, kliënte en die algemene publiek;

2. effektiewe bestuur van die werksomgewing of werkverrigting;

3. ’n bydrae tot spanwerk en effektiwiteit; en

4. die spreekwoordelike tweede myl wat die personeellid loop.

Bystandpersoneel speel ’n kritieke rol om kwaliteitsorg aan pasiënte te lewer.

Die Tygerberg Hospitaal se senior verpleegbestuurder, Francilene Marthinus, het die personeel bedank vir hulle belangrike bydrae tot die hospitaal en die hoë werk-etiek wat hulle handhaaf.

Sy het hulle geprys vir die uitstaande werk wat hulle lewer onder moeilike omstandighede en dat hulle hul kolegas so goed ondersteun.

“In dit wat hulle doen, streef hulle daarna om kwaliteitdiens aan pasiënte te lewer.”

Die verskillende kategorieë is:

  • Kinderoppassers by die crèche wat ywerig na die kinders van die personeel kyk sodat die personeel weer na siek mense kan omsien.
  • Die CSSD (central sterile­ services department) en die huishou-personeel is ongelooflik belangrik omdat die instrumente wat gebruik word, gesteriliseer en skoon moet wees.

As dit nie gesteriliseer is nie, kan die dokters, narkotiseurs en die scrub sister nie met die operasie begin nie. Die pasiënt se lewe is op die spel.

  • Die skoonmakers en huishou-personeel se werk is net so belangrik omdat die omgewing waarin gewerk word, skoon van kieme moet wees. Kieme kan aan die wonde groei en infeksie kan intree. Dit gebeur dan dat die pasiënt langer in die hospitaal moet bly en selfs kan sterf.
  • Al die klerke en bystandsklerke help ook geweldig baie. Dié personeel versterk die verpleegdepartement se werk. Hulle is ’n inspirasie vir hulle eweknieë deur hulle harde werk en etiese optrede.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters