10 dae gelede
Passie vir paaie
BLINK IDEE: Divan Manuel, Urshwin Geswind en Curtley Cedras hou die jeug met sport besig.  ~ Basil Davids

WOLSELEY. – Vurige jong manne hou jeugdiges hier met sport besig om hulle sodoende van verkeerde dinge weg te hou.

Die sportmanne Divan Manuel (24), Urshwin Geswind (27) en Curtley Cedras (25) het twee jaar gelede die 5am Squad gestig.

Talle jong kinders vanuit die hele Witzenberg-streek het hulle reeds by die klub aangesluit.

Curtley sê hulle het met die naam vorendag gekom omdat hulle elke oggend, naweke ingesluit, op die kop 05:00 bymekaarkom en dan die pad aandurf om ’n paar kilometer te draf.

“Ons doen dit nou al die afgelope twee jaar en ons vermeerder by die dag,” het ’n opgewonde Curtley vertel.

Divan sê dit doen die mense net goed aangesien hier in die kontrei baie misdade gepleeg word.

Volgens die outjies is hier al wrede moorde gepleeg waaroor Son ook al baie berig het.

Volgens die manne het hulle met dié briljante idee vorendag gekom en aan ’n plan gedink hoe hulle misdaad kan bekamp.

“Ons het maar doodeenvoudig koppe bymekaargesit en gedink dat ons die jeug met die sportgogga moet raak steek,” het die manne opgewonde gesê.

Verskil

Urshwin sê hy het nie eens twee keer gedink om sy gewig in te gooi nie, want volgens hom kan hy ook met sy sporttalent ’n groot verskil in die jeug se lewens maak.

Nie net fokus die squad op road running nie, hulle het ook die Witzenberg Barbarians-sewesrugbyklub gestig.

Hulle het nog voor lockdown aan baie kompetisies deelgeneem en baie goed gevaar.

Die klub beplan om ’n toer na Namibië te onderneem om daar aan ’n sewestoernooi deel te neem. Dit sal sekerlik gebeur wanneer lockdown hulle toelaat.

Broekskeur

Intussen is hulle druk besig met fondsinsamelings vir uitrustings en natuurlik vir hul vervoergeld.

Aangesien die meerderheid van die kinders uit moeilike omstandighede kom, gaan dit in hul huishoudings maar broekskeur.

Van hul ouers werk mees­tal in die landelike gebiede en kan nie die uitrustings bekostig nie.

Curtley sê dié squad sal dit baie waardeer as daar mense is wat hulle graag vir hul trippie sal ondersteun.

Om dié jeugdiges te help, bel Curtley by 063 323 3144.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters