Verlede maand
Pa’s en hul seuns bou hegte bande
WEES MAATS: Hier kry pa’s en hul seuns raad oor hoe hulle hul bande kan versterk.  ~ Foto Verskaf

ROBERTSON. – Baie derras is afwesig terwyl hul kinders opgroei.

Wanneer dié kinders eendag groot is, besef baie van hierdie pa’s hulle het nooit hul plek volgestaan in hul kinders se grootwordjare nie.

’n Seun is veral baie geheg aan sy pa en hy kyk op na alles wat sy pa doen.

Dr. Adriaan Landman, die hoof van die Langeberg Sekon­dêre Skool, het met die briljante idee vorendag gekom om vir die afgelope naweek ’n pa-en-seun-ontbyt te reël.

Bendes

“Die doel van hierdie dag is om pa’s en seuns se kommunikasie en verhouding te versterk.

“Ons hoor dikwels van afwesige pa’s en die uitwerking wat dit op hul kinders het, veral seuns. Soms raak seuns betrokke by bendes omdat hulle na die liefde en omgee van ’n pa smag.

“Hulle gaan soek dit dan by die verkeerde plekke,” het Landman gesê.

Landman sê die idee is om die vaderfiguur terug by sy gesin te bring en hom veral saam met sy seun in die huishouding te sien.

Past. Pieter Schwarz het bemoedigende woorde uitgespreek en het beaam baie pa’s is deesdae afwesig in hul kinders se lewe.

Terwyl Schwarz sy boodskap gedeel het, was daar baie van die pa’s wat ’n traan in die oog gekry het.

Adian Adams van Dagbreek Primêr het kom deel watter negatiewe impak sy pa se afwesigheid op sy jong lewe gehad het.

Bedank

Sy getuienis het die pa’s en seuns in trane gehad, terwyl Solomon Marlow van die organisasie Camp verskeie aktiwiteite gedoen het wat hulle die geleentheid gegee het om mekaar weer te vind.

Ná die verrigtinge het die seuns hul pa’s met ’n heer­like plaasontbyt bedien.

Adam Ruiters, ’n opgewonde pa, sê: “Hierdie dag het my weereens laat besef watter groot rol ek as pa het en ek wil die prinsipaal en die personeel bedank wat dié wonderlike dag beplan het.”

Jersvin Aghullis, die hoofseun, en André Mouries, ’n gr. 12-leerder, het ook hul dank teenoor Landman en die personeel uitgespreek vir die organisering van ’n wonderlike oggend wat hulle met hul pa’s kon geniet.

Die organiseerders doen ’n beroep op pa’s in die gemeenskappe om tyd te maak vir hul kinders. Hulle het ook gevra dat die pa’s hul liefde en omgee aan hul kinders moet bewys sodat kinders nie dit op ander plekke gaan soek nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters