24 dae gelede
Ouers kry toe 'n verrassing
DANKBAAR: Die wyksraadslid Maxwell Heins (middel), en beneficiaries Jasmine Zimri (regs) en Delmarie Abrahams (links).  ~ Foto Verskaf

CLANWILLIAM. – Privaat skenkers hier het meer as 50 huishoudings finansiële verligting gegee net voor die begin van die nuwe skooljaar.

Dit het gekom nadat dié barmhartige Samaritane 52 plaaslike lay-by-rekeninge ten volle afbetaal het.

Hierdie goeie humanitêre daad het Vrydag by die Pep Stores in die dorp plaasgevind.

Deursoek

’n Wyksraadslid, Maxwell Heins, sê hy het vroeër laas maand met ’n privaat skenker vergader om te bespreek hoe hulle inwoners kan help om finansiële verligting in hul huishoudings te bring.

Heins verduidelik: “Die skenker het toe besluit om die plaaslike winkel, Pep Clanwilliam 386, te nader om te luister hoeveel lay-bys vir skoolklere hulle op hul stelsel het.

“Die personeel het die kontrolelys deursoek en hulle kon toe vasstel hoeveel lay-bys daar met skoolklere is.

“Ons het besluit ons gaan die rol van die barmhartige Samaritaan aanneem. Ná interaksie met Pep vind ons dat daar 52 skool lay-bys is wat nie naastenby klaar betaal is nie.

“Die totale waarde van die 52 lay-bys was R20 658,97. Die bal is dadelik aan die rol gesit en die bedrag is oorbetaal aan Pep Clanwilliam 386.”

Pep Stores het op Vrydag 29 Januarie die ouers gebel om hulle in te lig dat hul lay-bys klaar afbetaal is.

Trane

Die gemoedere onder die ouers was dié van dankbaarheid en oorweldigende gelukkigheid.

Toe die ouers­ besef die lay-by is klaar betaal en dat hulle nou hul geld vir kos, elektrisiteit en ander aankope kan gebruik, kon sommige van hulle hul trane nie keer nie.

Jasmine Zimri sê: “Ek is so dankbaar, want ek was hoeka bekommerd oor waar ek geld vir die lay-by sou kry.

“Die geld vir die lay-by kan ek nou weer gebruik om kos vir die huis te koop. Baie dankie, Raadslid.”

Delmarie Abrahams sê: “Dit voel ek kan huil, want dit is ’n enorme las van my skouers af.

“Dankie, Raadslid.

“Ek voel nou baie gerus en bly, want my kinders kan met trots die nuwe skooljaar aanpak.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters