Verlede maand
Oud-spelers help
PLOEG TERUG: George Dearnaley (voor met gloves) saam met ander voormalige beroepspelers maak hul harte oop in hul onderskeie gemeenskappe om behoeftiges se nood te verlig.  ~ Verskaf

CHARITY begin by die huis­!

Dít is presies wat sekere voormalige Kaapse Bafana Bafana-spelers bewys tydens die corona-krisis deur uit te reik na behoeftiges in hul onderskeie gemeenskappe.

Die voormalige AmaZulu-legende George Dearnaley is aan die spits van die inisiatief saam met ander bekendes soos Tyren Arendse, Brent Carelse, Zane Alexander en David Kannemeyer.

Dié voormalige professionele spelers van die Kaap het besluit om terug te ploeg in die gemeenskappe waar hulle grootgeword het en wat ’n bydrae gehad het in hulle suksesvolle loopbane.

Dearnaley se organisasie Football for All en Miles­ October se organisasie Play Sport For Life het kragte saamgespan met ’n organisasie sonder winsbejag uit Duitsland, Global United FC.

Benewens Global United se liefdadigheidswerk, fokus hulle ook daarop om die omgewing te beskerm, sowel as op bewusmaking oor klimaatsverandering.

Geïdentifiseer

Volgens Dearnaley het Global, wat prominent is in Namibië, hulle gekontak om R35 000 te skenk vir liefdadigheidswerk in Suid-Afrika.

“Dis toe ek en Miles besluit het om ook R35 000 in te samel, wat ons ’n totale bedrag van R70 000 gegee het om van die minderbevoorregtes te voed.

“Miles het die area van Factreton geïdentifiseer waar daar ’n groot nood is,” verduidelik Dearnaley.

“Tyren het besluit om in sy gemeenskap van Kleinvlei ’n verskil te probeer maak toe hy kospakkies by die R.R. Franks Primêre Skool gaan aflaai het.

“Brent, wat van Ocean View afkomstig is, het besluit om die mense daai kant te voed met sy feeding scheme.

“Net só het David en Zane in Ottery seker gemaak dat hulle gemeenskap kos kan hê in die krisis-tyd.”

Ander oud-spelers soos Stanton Frededricks, Matthew Booth en Fabian McCarthy het in Johannesburg sanitisers en ander noodsaak­likhede uitgedeel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters