21 dae gelede
Oud-gevangene ploeg terug
TUINMAN: Andries Gysman het net die beste uit sy rehabilitasie in die gevangenis geneem en help deesdae sy gemeenskap.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Andries Gysman (60), ’n oud-gevangene, het met ’n briljante idee na vore gekom.

Die skills wat hy in die landbou-afdeling van die gevangenis geleer het, pas hy nou op ’n unieke manier in sy gemeenskap toe.

Gysman vertel: “Tuinmaak is in my bloed. In die gevangenis is ek deur die landbou-afdeling gerehabiliteer en nou pas ek dit toe in my gemeenskap.

“Ek het eers begin tuinmaak in my eie yard. Toe het ek van die groente begin verkoop.”

Dis eers toe hy besef het hoeveel grond in die gemeenskap van Bergsig braak lê dat die idee van tuinmaak in ander inwoners se yards by hom posgevat het.

“Ek het mense gevra of ek in hul yards ook kan kom tuinmaak met my eie saad en tyd. Dan kan hulle die groente verkoop en daai geld weer gebruik om byvoorbeeld krag te koop.

“Dis geen geheim hoe duur krag is nie. Ek plant, die eienaar oes, die eienaar verkoop, die verbruiker kry vars groente en die eienaar wen ekstra geld wat in sy huishouding gebruik kan word.”

Medisyne

’n Inwoner, Siena Arnolds, het reeds die vrugte gepluk van hierdie goeie plan.

Sy vertel: “Andries het begin plant en nou het ek ekstra geld in my beursie. Ek hoef nie groente te koop nie of ek kan dit verkoop vir ekstra geld om iets anders te koop.”

Nog ’n inwoner het weer haar groente-geld gebruik om medisyne te koop.

Gysman het ook raad vir groenteboere: “Vir plantsiektes soos luise gebruik jy net ge­wone as en vir roes gebruik jy seepwater.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters