24 dae gelede
Oud-bendelid gee jonges raad
GEE TERUG: O’Neal Fransman praat met ’n paar jeugdiges op die strate van die Paarl.  ~ Jonathan Lestrade

DAAR is net een van twee dinge wat wag wanneer jy betrokke raak by ’n bende – die tronk of die dood.

Dít is die boodskap wat ’n voormalige bendelid en dwelmverslaafde, O’Neal Fransman (32) van Wellington, met jong mense wil deel.

Fransman, wat drie jaar gelede besluit het om ’n verandering in sy lewe te maak, werk nou saam met jeug in die Wynlandstreek om hulle beter keuses in die lewe te help maak.

“As ek dink aan die seer wat ek veroorsaak het en hoe ek myself verloor het, maak dit seer, maar ek maak nou gebruik van my ervaring om ander in die regte rigting te help. Ek het besef dat daar niks goeds sal uitkom vir my as ek aangaan met die bende- aktiwiteite of dwelms gebruik nie,” sê Fransman.

Op die ouderdom van 16 het hy hom in ’n bende bevind en soos die tyd aangestap het, het hy ná skool begin smokkel met dwelms.

Fransman sê hy het by die bende aangesluit omdat hy vriende gehad het wat lid van een was.

“Dit was in daai tyd soos ’n trend gewees en ons het gedink dit was kwaai, maar dit was glad nie so nie,” sê hy nou.

Rustig

Fransman sê hy het in ’n latere stadium betrokke geraak by ’n groter bende. Dit is toe dat hy self begin dwelms gebruik en dinge agteruit gegaan het.

“Ek het my waardes begin verloor en was verlore, maar sowat drie jaar gelede het ek net begin rustig word en die stem van die Here gehoor en Hom aangeneem in my lewe.

“Ek het begin herstel en dinge het net beter geraak.

“Ek het dus in kontak gekom met die groep Breaking Barriers en dit gee my die geleentheid om met die jeug te praat en hulle te motiveer.”

Fransman sê hy het ook community development gestudeer om jong mense beter te kan help. Hy werk ook met Networking for Christ.

Sy vriend Lindsay Solomons (25) is een van die sport-koördineerders daar en sê die jeug geniet dit om aan die verskillende sport-aktiwiteite deel te neem.

Besoek Networking for Christ en Breaking Barriers gerus op Facebook.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters