2 maande gelede
Ou kry nuwe lewe
Verlede: Marshall Breda sê sy lewe was nie maklik nie.  ~ Verskaf

HY WAS ’n tikkop en gangster en sy identiteit was aan geweld in die strate gekoppel.

Maar nou is hy ’n man met sy eie huis, drie karre wat in sy garage staan en ’n vrou vir wie hy baie lief is aan sy sy.

Marshall Breda (32) van Humansdorp in die Oos-Kaap gesels met Son oor sy donkerder dae toe drank, dwelms en bendegeweld die enigste vorm van vrede vir hom was. Hy vertel van ’n tyd toe hy net 13 jaar oud was en sy eerste bottel wyn opgetel het.

Hy vertel hoe hy net ’n jaar later as 14-jarige vir die eerste keer hof geloop het op aanklagte van aanranding en roof.

“Teen 15 het ek en my vriende ’n gang begin wat later ernstig geword het. Teen 17 het tik sy kloue in my gehad.

“Ek het gesien hoe my vriende tronkstraf vir life kry. Wat ek nou kan sê, is dat die Here my regtig bewaar het, want in die 10 jaar het ek nooit gebandiet nie.”

Breda sê toe hy 23 jaar oud was, het sy oë oopgegaan en hy het gesien hoe hy nie vorentoe beweeg nie.

“Ek het die Here sewe jaar gelede aanvaar en yor, het die deure toe begin oopgaan.

“In dié tyd het Hy van my ’n eienaar van ’n nuwe huis gemaak en in my yard staan drie mooie voertuie. En ek het nie drugs daarvoor verkoop nie.

Rehab

“Ek is ook ’n getroude man, met ’n mooie vrou. Ek het my identity gevind in Hom.”

Breda sê dat hy nou saam ’n paar tjommies werk om ’n rehab oop te maak.

“Dis vir die jong laities om hulle te help. Ons help ook met gang intervention en ek glo dit gaan uitwerk omdat hulle ook my lewe kan sien en hoe dit beter uitgedraai het.”

Hy sê as daar een ding is wat hy vir die jeug wil sê, is dit om nie hul omstandighede as ’n verskoning te gebruik nie.

“Ek verstaan as jy swaar grootword, kan jy nie kies waar jy woon nie. So outomaties is jy in circumstances vasgevang.

“Moenie toelaat dat dit jou identity bepaal nie. Jy is soveel meer as jou circumstances, onthou dit.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters