3 maande gelede
Organisasie kry hupstoot
skenking: Hollywood Bets het die organisasie We Care se voedingskema ’n hupstoot gegee. Voor is Salvanna Bellairs en past. Donovan Arends. Agter van links na regs is Cheslin Didloff, Babalwa Zide, Sarah Hendricks, Rochenda de Beer, Anam Luzipho en Yolandi George. Foto’s: THEO JEPTHA  ~ 

DIE organisasie sonder winsbejag We Care in Bloemendal se voedingskema het ’n stewige hupstoot gekry danksy ’n welkome skenking van Hollywood Bets.

Afgevaardigdes van Hollywood Bets het met groot opgewondenheid die toerusting wat hulle geskenk het, by die sentrum gaan aflaai.

Die oorhandiging het plaasgevind terwyl talle honger magies toustaan om ’n warm bord kos te ontvang.

We Care se stigter, past. Donovan Arends, sê hulle het Hollywood Bets op Madibadag versoek om kos aan die kinders te verskaf, maar hul versoek is afgekeur omdat Hollywood Bets vir hulle iets meer volhoubaar wou gee. “Hulle het gevoel kos is eenmalig en wou weet wat ons die meeste nodig het.

“Ek het laat weet die grootste behoefte lê by die voedingskema.”

Hollywood Bets het spoedig werk gemaak van die versoek en het 100 stoele, tien tafels, twee gasstowe, vyf groot kookpotte en kookgerei kom aflaai.

Dankbaar

Salvanna Bellairs, bemarkingskoördineerder van Hollywood Bets, sê die skenking vorm deel van hul program om terug te ploeg in die gemeenskap.

Die voedingskema voer drie keer per week sowat 800 minderbevoorregte mense van onder meer Timothy­ Valley, KwaNoxolo en Uitbreiding 21.

Arends sê hulle is dankbaar, want die skenking gaan ’n daadwerklike verskil maak in die gemeenskap.

Die We Care-sentrum het ’n bron van hoop geword sedert die organisasie hul deure in 2012 geopen het in Bloemendal.

’n Weldoener het die gebou gekoop en aan die organisasie geskenk.

We Care gaan een van die dae ’n splinternuwe kliniek oopmaak by die perseel, in samewerking met die Oos-Kaapse departement van gesondheid en die Chatty-kliniek.

Hulle gaan ook eersdaags rekenaarklasse en klasse in home based care aanbied.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om te registreer.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters