3 dae gelede
Onnie vat pad vir kids
VISIE: Irafaan Abrahams wil met sy 50 halfmarathons geld insamel om vir minderbevoorregte kinders skoolskoene te koop.  ~ Peter Abrahams

AS JY gewoonlik die mylpaal van jou 50ste verjaardag bereik, deel jy dit met familie en close vriende.

Maar vir ’n welbekende onnie op die Kaapse Vlakte beteken dit veel meer as net ’n dag wat saam met geliefdes gedeel moet word.

Irafaan Abrahams (50) van Bay View in Mitchells Plain het onlangs sy 50ste verjaardag gevier.

Hart

Hy sê toe hy sy oë op 12 Desember oopmaak, het hy geweet God het nog baie planne met hom.

Sy hart is toe op een ding ingestel – om dié mylpaal te deel met die mensies wat groot voetspore in sy hart gelos het.

Twee jaar gelede het Abrahams met Son oor sy persoonlike gesondheid gepraat.

Die onnie het toe sy stilte oor sy gesondheidstoestand verbreek en dit eksklusief met ons gedeel.

Hy’t vertel hoe hy jare met sy eie demone en ’n mediese toestand bekend as angio-edeem geveg het. Hy help ook byna ’n dekade lank andere deur sy deelname aan marathons.

Angio-edeem is ’n skielike swelsel onder die vel weens ’n allergiese reaksie. Dit kan ook oorerflik wees.

“Ek het die pad van swaarkry saam met baie geloop. Toe besluit ek ek wil graag vir hulle hardloop, want dis deur hardloop dat ek peace of mind kry.”

Om sy lewe te vier, het Abrahams ’n nuwe doelwit gestel – om teen die begin van 2022 vir elke leerder in 50 skole ver en wyd in die land ’n nuwe paar skoolskoene te koop.

MAAK LITTE LOS: In ’n wêreld vol kommer en hindernisse gee draf Abrahams vrede. Foto: Peter Abrahams

Dié poging het laas week in sy tuisdorp begin toe hy die eerste van sy 52 halfmarathons voltooi het. Hy verduidelik elke halfmarathon het ’n betekenis.

“Die eerste een het ek in Garlandale in Athlone klaargemaak. Dis waar ek grootgeword het.

“Kyk, ons het ook nie van ’n lewe van welvaart gekom nie. Ek het in ’n garage opgegroei en vir dit is ek dankbaar, want deur dit kon ek verstaan waardeur ons kinders gaan.

Vryheid

“Almal onthou die plek ‘waar dit alles begin het’ en vir my was dit hier. Dis hoekom die eerste gedeelte van die marathon ‘Back To My Roots’ genoem word.”

Vir die res van die jaar sal Abrahams elke week ’n halfmarathon voltooi. Hy sê die besluit om te hardloop, kom ook van die gevoel wat hy van dié sport kry.

“Dit gee jou die vrede en vryheid om te dink.

“In ’n wêreld van Covid en armoede gee dit gemoedsrus. So, deur dít te doen, hoop ek dit gee ook mense vrede dat hul kinders nie oor skoolskoene hoef te worry nie.”

Paraffien

Vandag sal Abrahams sy tweede halfmarathon hardloop. Dit vind om die Rondebosch Common plaas.

Abrahams sê hy het dié plek gekies omdat hy as tweejarige kind in die Rooi Kruis-kinderhospitaal beland het nadat hy paraffien gedrink het.

“Dié gedeelte noem ons ‘The Circle Of Life’.

“Die volgende een bekend as ‘Family Love’ sal ek op 20 Januarie in Seepunt voltooi.

“So, bring jou familie en maak ’n dag daarvan, want after all is dit die liefde wat ons graag wil versprei.”

Mense wat skenkings wil maak of ’n paar skoene vir R150 wil sponsor, kan Abrahams gerus kontak by 060 651 0352.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters