7 dae gelede
‘Om te skryf het my gehelp’
SY KANNIT DOEN: Lesley T. Achilles hoop haar boek sal ander mense kan help om beter met die dood te deal.  ~ Foto Verskaf

MET Covid-19 wat orals amok maak, klop die dood harder as gewoonlik aan almal se deur.

Die dood is die eina-kant van die lewe. Die stiefkind wat almal se lewe een of ander tyd vergal.

Maar dis juis die dood van haar lewensmaat wat Lesley T. Achilles, ’n gebore Weskusser, geïnspireer het om ander te help om oor die dood van ’n geliefde te kom.

Trots

Uit haar smart en verlies is Behind It All gebore.

Dis ’n boek waarop Achilles baie trots is.

“Dit was glad nie my plan om ’n boek te skryf nie. Nadat ek my lewensmaat vier jaar gelede skielik in ’n padongeluk verloor het, het ek begin skryf as ’n manier om my gevoelens uit te kry.

“Ek is van nature nie iemand wat sommer praat en oopmaak oor die dieper goed nie. So, om te skryf het my baie gehelp. Ek kon op papier so hartseer wees as wat ek wou. Ek kon so kwaad wees soos ek wou. Ek kon al die vrae vra wat ek wou.

“Ek kon met God praat en vra wat ek wou. Ek kon selfs myself so jammer kry as wat ek wou.

“Hierdie is alles gevoelens waarmee almal worstel wat iemand aan die dood afstaan; baiekeer alleen,” vertel Achilles.

Sy glo haar boek is veral nou relevant met baie mense wat weens Covid-19 geliefdes aan die dood afstaan.

“Ek glo absoluut alles gebeur vir ’n rede. As ek nie verlede jaar alleen in lockdown was nie, sou ek nooit my boek gepubliseer het nie.

“Vir eers was dit net ’n projek om my mee besig en aan die gang te hou. Dis eers toe ek daaroor begin gesels met vriendinne dat ek besef het daar is ’n kans dat ek dalk iemand hiermee kan help.

“Dis ongelukkig ’n realiteit dat so baie van ons geliefdes in hierdie aaklige Covid-tyd verloor het. Ek hoop my boek kan vir iemand van waarde wees.”

Behind It All is tans teen R200 op Takealot beskikbaar, terwyl haar uitgewer daaraan werk om dit ook op boekrakke in boekwinkels beskikbaar te stel.

“Ek wil graag hê my boek moet iemand wat ’n geliefde aan die dood moes afstaan, minder alleen laat voel.

“Rou is die selfsugtigste ding. Dit neem alles oor en laat jou alleen en selfs soos ’n uitgeworpene voel.

Normaal

“Mense vermy jou omdat hulle nie weet hoe om rondom jou op te tree nie.

“As ek net vir een persoon kan wys dat alles wat jy voel en deurgaan, heeltemal normaal en oukei is, sal ek tevrede wees,” voeg sy by.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters