27 dae gelede
‘Nie weer nie’
Lang gewag: Mense staan drie dae gelede in Grabouw steeds in rye in die hoop op ’n uitkoms om die honger te stil.  ~ Verskaf

GRABOUW. – Nadat ’n vrou haar morsdood gewag het in ’n Sassa-ry toe haar grant gestop is, het Samaritane koppe bymekaar gesit om mense se honger te stil.

Die rye by die grant-kantore bly ná twee weke kommerwekkend lank. Weens die pandemie het armoede vererger en hongersnood neem by die dag toe.

Goedhartiges het nou kragte saamgespan om die mense kos te gee terwyl hulle in die ellelange rye wag om hul Sassa-aansoeke te hernu.

Duisende mense se tydelike grant is in Januarie gestop. Son het onlangs berig oor die dood van Nomini Madubela van Rooidakke. Sy was een van die mense wat dag ná dag in ’n lang ry op ’n uitkoms moet wag.

Madubela (55) het laas Vrydag kort ná 07:00 in die Sassa-ry buite die Gerald Wright-gedenksaal dood neergeslaan.

Volgens die gemeenskapsleier Isabel Bailey het Madubela al van die Donderdag af daar gestaan in die hoop dat sy voor kon kom om gehelp te word.

Baiekeer moet aansoekers egter in hul spore terugdraai omdat Sassa nie almal op dieselfde dag kan help nie.

Bailey het aan Son vertel daar was niks kos in Madubela se huis nie.

Sy het volgens Bailey met ’n leë maag in die lang ry gestaan en wag.

Bailey het gesê sy en ’n paar ander mense het besluit só ’n tragedie sal nie weer in hul dorp gebeur nie.

Hulle het kragte saamgesnoer om die mense in die Sassa-rye te voed.

Volgens haar het die bekende gemeenskapswerker Alfra Roos al Vrydag 04:00 begin kook.

Daarna het Bailey en haar dogter, Natasha Bailey, die kos geneem om aan die mense uit te deel.

Volgens Bailey het hulle van verskeie plaasboere groente en lekker warm brode ontvang.

Ander mense het kouevleis geskenk.

Bailey vertel: “Die mense is honger en kom staan dan net so in die ry.

“Baie van daardie mense se kaste is leeg en hiervan kan ek self getuig.

“Baie van hulle raak naar en kap om, want hul suikervlakke val.

“Toe ons die kos bring, was die mense so gelukkig.

“Daar was selfs trane van vreugde en verligting op mense se gesig.

“Hulle het selfs ’n tweede keer gekom. Hulle kon nie genoeg kry nie.”

Broodnodig

Volgens Bailey sorg sy dat Madubela se kinders gereeld iets te ete het noudat hul ma afgesterf het.

Sy het gesê die gesin het juis laas week ’n kos-hamper gekry.

Bailey het gesê: “Ek het vir die oudste dogter gesê sy moet na Sassa se kantore gaan om uit te vind of sy nou haar twee broertjies se AllPay kan pay.

“Sy is werkloos. Daardie arme kinders het daardie geld so broodnodig.”

Sassa het laas week ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy verskoning gevra het vir die tekortkominge in die land, asook vir die voorval by die Sassa-kantore in Bellville. Die polisie het daar ’n waterkanon gebruik om mense uiteen te dryf.

Die verklaring lees voorts dat die Wes-Kaap die grootste uitdaging inhou omdat die kantore oorvol is.

Dít is omdat die meeste van die plaaslike gemeenskapsale wat Sassa voorheen gebruik het nou gesluit is.

Agentskap

Gevolglik moet aansoekers na een van die 16 hoofkantore gaan om hul aansoek om ’n tydelike grant te hernu, lees die verklaring.

Sassa het ook gesê die agentskap het nou ’n 12-punt-plan ingestel om seker te maak alle aansoeke is teen 31 Maart afgehandel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters