2 maande gelede
’n Helpende hand
Baby Saver: Ouers laai hulle babas hier af.Foto ter illustrasie  ~ 

JAARLIKS word meer as 3 500 babas deur hulle biologiese ouers of primêre versorgers wees gelaat of weggegooi.

Dit is nie meer nodig nie, want daar is ’n Baby Saver in Bellville waar jy jou baba kan los as jy voel jy kan hom of haar nie self versorg nie.

Inceba Projects NPC, ’n NGO in Bellville, sal die proses fasiliteer sodat jou baba versorg en uiteindelik aangeneem word.

Inceba se perseel is geleë oorkant die Nobel Park-sentrum, net langs die AGS Bellville-ouditorium.

“Ons is nie ’n huis vir ongehude moeders of vroue wat swanger is en geen heenkome het nie.

“Ons bied volhoubare oplossings aan individue en groepe in die gemeenskap wat krisisse, uitdagings en veranderinge ondergaan,” sê Johan M. Pretorius, hoof­bestuurder van Inceba.

Behoefte

In een van die mure by Inceba is ’n Baby Saver ingebou, waar ma’s hulle kinders kan laat. Die spanlede by Inceba sal die baba dan verder versorg.

“Ons het nie babas by ons fasiliteit nie, maar ons het baie te doen met mammas wat ’n behoefte het om hulle omstandighede met ons te deel.

“Een van ons vennote is ’n aannemingsagentskap en ons ondersteun graag wanneer ons kan.

“Ons het te doen met kangaroe-mammas, wat ’n baba versorg terwyl sy of haar kinderhofproses aan die gang is. Ons ondersteun hulle graag deur dié proses,” sê Pretorius.

’n Bepaalde protokol word gevolg wanneer ’n baba uit die Baby Saver gehaal word.

Dit sluit onmiddellike mediese sorg en klaring in.

“By die hospitaal neem die aannemingsagentskap die baba in sy wetlike sorg. ’n Kinderhofprosedure begin binne 48 uur met aanneming as die einddoelwit.

“Inceba werk nie met ’n ma voor of ná geboorte nie. Ons paaie kruis net met ’n mamma s’n as sy van die swangerska­p­hulpsentrum se dienste gebruik maak.”

Volgens Pretorius is ’n vrou met ’n ongewenste swangerskap gewoonlik bang, onseker, alleen en heeltemal oorweldig.

“Sy voel dalk dat ’n aborsie haar enigste uitweg en oplossing is.

“Dit is nié. By Inceba kan ons ’n vrou help om ’n ingeligte besluit te neem betreffende haar swangerskap.

“Ons kan haar vertel van al die moontlikhede en hulpbronne tot haar beskikking om die swangerskap te laat werk.”

Die gedagte is om haar bloot te stel aan al die moontlike oplossings en hulpbronne sodat die ma verstaan sy hoef nie noodwendig te aborteer nie en dat aborsie nie die enigste uitweg is nie.

Dikwels sal ’n vrou die swangerskapsentrum besoek vir hulp nadat sy ’n aborsie gehad het.

Daar is opgeleide personeellede wat haar deur die proses kan help om die aborsie te verwerk en vorentoe te gaan.

Dit staan bekend as post- abortion recovery.

“Ons het ook ’n winkel met tweedehandse klere, waar mense baie goeie tweedehandse klere en items skenk.

“Ons deel baie van die klere en items uit en die res word in die winkel verkoop.

“Met die inkomste uit die klereverkope is ons in staat om ’n paar operasionele sake te befonds,” vertel Pretorius.

Navrae

Die klere word deur kerke, vriende, vrywilligers en mense uit die gemeenskap geskenk.

Die hulpsentrum is vier dae ’n week oop vir vroue wat hulleself in ’n krisis-swangerskap bevind. Inceba resorteer onder die Kos Vir Skole NPC-sambreel.

Rig navrae aan Johan M. Pretorius by 083 350 4917 of e-pos johan@inceba.com.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters