4 maande gelede
’n Go-to vir girls
GEE TERUG: Yolande Kettledas (regs) en haar niggie Evannay Kettledas, wat die projek saam met haar gestig het.  ~ Jonathan Lestrade

ELKE jong meisie makeer iemand om na op te kyk, iemand wat hulle in die regte rigting kan stuur.

Vir Yolande Kettledas van Ravensmead is dit presies wat sy wil wees. Dis ook wat sy wil doen deur haar organisasie sonder winsbejag, Young Overcomers Living Out Loud (Yolol).

Die jong onderwyseres het die NPO in die grendeltyd gestig om ’n positiewe impak te maak op die lewe van jong mense, veral jong meisies.

“Ek het besef daar is ’n groot leemte in die gemeenskap. Jong meisies het nie altyd iemand na wie hulle hulle kan wend vir ondersteuning of advies nie.

“Deur ons onderskeie programme wat ons wil stig, wil ons hê daar moet tussen hulle ’n sisterhood wees waar hulle veilig en gemaklik kan wees, hul probleme kan deel en hul eie keuses kan maak,” verduidelik sy.

As onderwyseres het Kettledas agtergekom baie jong meisies voel alleen, is nie confident nie en sal nie sommer uitpraat oor wat hulle pla nie.

Kettledas het toe haar sisterhood-program, Girl 2 Girl, gestig.

Dit is gemik op meisies wat nog op skool is, maar bied ook iets vir dié wat skool vroeg verlaat het.

“Dit is naskoolse programme waar ons bymekaarkom, tuiswerk saam doen, oor issues kan praat en advies deel waar ons kan,” verduidelik sy.

Kettledas sê sy het ook besef baie jong meisies voel nie gemaklik daaroor om oor menstruasie te praat nie.

“Hulle sal dit dalk met hul vriende deel, maar verder stilbly daaroor en nie weet wat dit beteken nie.

“Ons wil deur ons organisasie met hulle daaroor gesels en hulle laat weet hulle is nie alleen nie.

“Ek wil ook ’n permanente plek hê waarheen hulle altyd kan kom as hulle toiletware nodig het,” sê sy.

Dit is waarom Kettledas begin het om toiletware in te samel. Sy maak reeds geskenkpakkies op wat sy later dié maand op die launch van die Girl 2 Girl-projek aan ’n groep meisies gaan oorhandig.

“Al dink ons pads is bekostigbaar, glo ek daar is meisies wat sukkel.

“My vision is dat dit altyd vir hulle beskikbaar sal wees. Dit sal ons ook die geleentheid gee om met meer meisies in kontak te kom.”

Kettledas sê hulle sal op 16 Desember 30 jong meisies host. Sy doen ’n beroep op die publiek om hul projek te ondersteun.

“As daar mense in die gemeenskap is wat bevoeg is om te kan sponsor, maak asseblief ’n bydrae? Ons moet hulle wys iemand gee om vir hulle en dat daar vir hulle ’n plek is wanneer hulle hulp kort.”

  • Enige iemand wat Kettledas wil ondersteun, kan haar by 071 937 5320 of 074 786 0024 whatsapp.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters