4 maande gelede
Meisies bemagtig
Tawwe tienies: Die meisies spog met die sertifikate wat hulle verdien het vir die bywoning van die program.Foto’s: Stad Kaapstad  ~ 

DIE Stad Kaapstad se afdeling rampbestuur het onlangs ’n kursus aan­gebied om meisies se veerkragtigheid te toets.

Altesaam 16 tienermeisies van Ocean View en Masiphumelele het deelgeneem.

Hulle het in die rampbestuursentrum in Goodwood ’n kursus oor die korrekte optrede in noodgevalle bygewoon en daarna is hulle getoets oor wat hulle geleer het.

Die Verenigde Nasies (VN) bedryf dié program, Women and Girls – the (in)Visible Force of Resilience.

Benewens korrekte optrede in noodgevalle, is die meisies in die nege dae geleer oor klimaatsverandering en biodiversiteit.

Biodiversiteit is van belang omdat die Kaapse Skiereiland en omgewing die habitat van ’n verskeidenheid unieke plant- en diersoorte is.

Die mayco-lid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, sê in ’n noodgeval moet ’n mens paraat en toegerus wees om die situasie te kan bestuur.

Smith sê: “Die program erken ook die bydraes wat miljoene vroue en meisies in noodgevalle lewer.

“Die bydraes wat hulle in hulle gemeenskappe lewer, mag nie onderskat word nie.

“Die doel van die program is om gemeenskappe te help om aanpasbaar en vindingryk te wees in noodgevalle en om die Stad te help om jong mense te bemagtig.”

Die deelnemers is onder meer onderrig in noodhulp, brandbestryding, leierskap, die hantering van weerloses en ontruimingsoefeninge in noodgevalle.

Die jong meisies is ook ingelig oor die funksies van die rampbestuurspan.

Smith sê om taaiheid in noodsituasies te toon gaan nie net oor vreesloos wees nie, maar ook om uit innerlike krag en selfvertroue te put.

Dít bied leiding in noodsituasies en stel só ’n voorbeeld wat ander kan volg.

Smith sê: “Ek is seker die program bied die deelnemers die nodige kennis om ’n aanwins in hulle gemeenskappe te wees – en ambassadeurs vir die Stad se rampbestuursentrum.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters