28 dae gelede
Meester ná hy lollie los
AKADEMIESE YSTER: Clint Higgins weier dat ’n verlede van dwelms in sy pad van sukses staan.  ~ Foto Verskaf

EERS het hy die high van ’n tik-lollie nagejaag. Nou is die enigste ding wat hy najaag sukses.

Clint Higgins het homself jare gelede belowe hy gaan nie ’n failure wees nie.

Sy droom was maar altyd om terug te gee en die gemeenskap se siening van die lewe te verander.

Nou, ná jare van harde werk en sukkel, kan Higgins sê hy het sy hoogste hoogtes bereik.

Higgins (33) is in die hartjie van Mitchells Plain gebore en het daar grootgeraak.

Sy verhaal klink soos iets uit ’n storieboek.

Maar pleks van die love-of-his-life-prinses het hy ’n graad gevang. ’n Meestersgraad, nogal.

Higgins sê hy remind homself gereed aan hoe daar ’n tyd was dat tik ál ding op sy mind was.

“Daai tyd sou ek nooit kon droom dat ek sulke hoogtes sou bereik nie; ek het in gr. 9 uit die skool gedrop. Ek het probleme gehad en die lollie was my enigste uitweg.”

Higgins verduidelik soos baie laities op die Kaapse Vlakte het sy ouers geskei en hy het nie geweet hoe om dit te verwerk nie.

Realiteit

“Ek was so aggressief oor dit. Ek het soveel energie rondom dit gehad en het nie geweet waar om dit te sit nie. Dwelms was die enigste oplossing.”

Hy sê dís vir baie kinders die realiteit, veral in gemeenskappe soos die Plain.

“Ons kinders het nie die leiding en motivering nie.

“Hulle word getrain om nie hul gevoelens te deel nie en daai is ’n mindset wat ons moet change.”

Toe Higgins ná amper twee jaar van dwelmgebruik gearresteer is, het sy lewe begin verander.

“Ek is na ’n rehab gestuur en daar het ek besef dat ek different is, want al was my lus vir high word daar, het ek ook ’n lus gehad om beter te wees.”

Die volgende jaar het hy sy skoolloopbaan hervat en dit voltooi.

In sy eerste jaar was hy die topleerder in sy graad en van daar het daai passie om die beste te wees by hom posgevat.

PLOEG TERUG: Higgins deel kos in sy gemeenskap uit om sy meestersgraad te vier. Foto: Verskaf

Higgins sê dit was vir hom ’n ander soort high.

“Drie weke voor my matriekeksamen het ek drugs totaal gelos. Ek is van daai tyd af skoon.

“My eerste job ná matriek was by ’n retail-winkel. Ná daai het ek ’n kursus in projek-koördinering voltooi, my nasionale diploma in bestuur en verkryging ontvang en ek het my groot droom, my honneurs in openbare bestuur, bereik.”

Maar dinge het nie daar gestop nie.

Die ready-vir-die-lewe-ou het die afgelope naweek met sy meestersgraad in ontwikkelingsfinansiering gekry.

TOEKOMS: Higgins sê dis belangrik dat die jongspan in hul eie drome en vermoëns glo. Foto: Verskaf

Vol blydskap sê Higgins hy het gekies om die oomblik te deel met sy gemeenskap, waar alles begin het.

“Ek wou die kinders wys niks is onmoontlik as jy net in jouself glo nie. Ek wou nie na ’n spoggerige restaurant gaan en dit vier nie.

Geleer

“Ek weet ek’t ’n doel. Toe besluit ek om die dag saam met die volgende geslag kinders soos ek deur te bring.”

Higgins sê as daar een ding is wat hy geleer het, is dit dat alles vir ’n doel gedoen moet word. Vir hom is daai doelwit om mense se storielyn te verander.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters