2 maande gelede
Mayor wil jonge help
beïndruk: Dan Plato sê hy is bereid om Max Amansure se projek ’n hupstoot te gee. Foto: Tracy-Lynn Ruiters  ~ 

KAAPSTAD se mayor, Dan Plato, gaan inspring en help.

Max Swartz Amansure (22), ’n jong man van Parkwood wat graag ’n verskil in sy gemeenskap wil maak, gaan nou hulp van Kaapstad se eerste burger ontvang.

Son het verlede week berig oor Amansure wat ’n projek begin het om werk te skep vir jong mense en terselfdertyd ook die bendegeteisterde gebied op te knap.

Hy het sowat ’n jaar gelede begin om ’n hot spot op die hoek van Ivy-weg en Parkwood-laan van ’n dumping ground in ’n netjiese tuin te omskep.

Inwoners het sonder om twee keer te dink ingespring en die jong man gehelp.

Stigma

Volgens Amansure is sy droom om sy tuinprojek na ander gemeenskappe uit te brei sodat hulle ook kan werk skep.

“Sulke inisiatiewe skep werkgeleenthede, help om ontslae te raak van ’n stigma rondom ons gemeenskap en die groente wat ons daar laat groei, kan ook mense voed.”

Die jong man het sommer diep in sy eie sakke gekrap om die tuin te begin.

Amansure is ’n bewys van hoop vir agtergeblewe gemeenskappe.

Hy moes die skool vroeg verlaat omdat hy nierprobleme gehad het. Maar dit het nie vir een oomblik sy lus vir die lewe gedemp nie.

Die berig het Plato diep geraak en hy het onmiddellik begin planne beraam om die jong man by te staan.

“Dis goed om te hoor dat ’n jong man so groot droom.

“Dis my plig om vir die jeug werk te kry.

“Dit kan dien as ’n pilot-projek vir ander gemeenskappe.”

Plato het Son verseker sodra die raadslede en ander amptenare terug van recess kom, sal hulle die bal aan die rol kry.

“Ons gaan hom met ’n waterpunt en gereedskap help.”

Amansure glo vas die projek sal ’n groot verskil in duisende mense se lewe maak.

Sy grootste behoefte is om ’n fence om die tuin te laat oprig om die mense se harde werk te beveilig.

Maar dit is ’n duur storie en hy het nie nou die fondse daarvoor beskikbaar nie.

Opgehelder

Plato sê hieroor dit hang van die plaaslike raadslid se begroting af.

Max was gister totaal oorweldig toe Son die nuus met hom deel.

“Ek het nie woorde nie.

“Dankie, dankie. Dit het beslis my donker dag opgehelder,” het hy gesê.

Hy sê sedert Son se berig verlede week verskyn het, het verskeie mense hom reeds gekontak om met die tuin te help.

  • As daar enige persoon of maatskappy is wat Amansure wil help met die oprig van die heining, stuur asseblief ’n e-pos aan tracy-lynn. ruiters@son.co.za of kontak haar gerus by 021 406 2602.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters