4 maande gelede
Matriek kry sy droom
VOL SMILES: Tariq da Silva saam met sy antie Samantha Fredericks en sy metgesel, Kaylee Ras.  ~ Foto Verskaf

HULLE sê mos: “It takes­ a village to raise a child.”

En dít is presies wat gebeur het toe ’n gemeenskap, sakemense asook ’n radiostasie ingespring het om ’n seun se droom te bewaarheid om sy matriekbal by te woon.

Rose­mary da Silva, ma van die 20-jarige Tariq da Silva van Scottsville, is hard deur die Covid-19-pandemie getref en het haar werk verloor.

Pleidooi

Dít het beteken hierdie enkelma van sewe en ouma van ’n kleinkind kon nie vir haar seun se matriekafskeid betaal nie.

Maar Samantha Fredericks, Rosemary se suster, het na die gemeenskap uitgereik vir hulp.

Volgens Fredericks het sy eendag in die sosiale media gesien die Kraai­love-gemeenskapsgroep is bereid om alle matrikulante te probeer help.

Sy het Kwayo Louw, voorsitter van Kraailove, gekontak.

Hy het haar pleidooi in die sosiale media gedeel.

Fredericks sê sy is stomgeslaan toe hulp uit alle oorde begin instroom.

Sy vertel: “Die omstandighede by sy huis is regtigwaar nie goed nie.

“Hoewel ek dit self nie breed het nie, het ek hom by my ingeneem.

“Sy ma het vyf kinders op skool en hy is die eerste een om matriek te haal.

“Hy het intussen van tweedehandse pallets vir mense in die gemeenskap begin tafels en stoele maak. Daarmee het hy sy suit begin afbetaal.

“Met die hulp wat ons gekry het, het mense vir hom skoene, ’n horlosie, ’n hemp en das, koeke en die decor geskenk.

“Sy foto’s is ook deur ’n professionele fotograaf geborg en iemand het vervoer in ’n luukse BMW geskenk,” sê Fredericks.

Volgens Fredericks het sy op die ou einde net vir die snacks betaal.

Maar Fredericks sê nóg ’n struikelblok het opgeduik toe die Hoërskool­ Scottsville weier dat hy sy afskeid bywoon oor sy skoolfooie met meer as R6 000 agterstallig is.

Mense in die gemeenskap het egter oproepe aan die skool gemaak en die agterstallige gelde is betaal.

Selfs ’n goedhartige besigheidsman van Pretoria en Bokradio het ingespring.

Sy sê alles beteken vir Tariq die wêreld oor hy baie graag sy matriekafskeid wou bywoon.

Ghetto

Louw het aan Son vertel hy wou Tariq help sodat hy in die toekoms ander kan help.

Hy vertel: “Ek het gevoel hy (Tariq) bly in die ghetto en hy’t dit reeds só ver gemaak.

“Ek sien dit as ’n groot achievement.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters