Verlede maand
Manna-mense gee vir rugga-mense
ENGEL: Marlene Mitchell (links) praat met van die ontvangers van kospakkies.  ~ Garnett Wicomb

BREAD From Heaven in Wellington het Maandag in samewerking met die Collegians-rugbyklub in Oudtshoorn 50 kospakkies en 50 brode aan werklose en oud-spelers van die klub oorhandig.

Dit was as deel van dié organisasie sonder winsbejag se uitreiking in dié tyd van nood.

Volgens Marlene Mitchell, wat Bread From Heaven saam met haar man, Morne, gestig het, het sy ses jaar gelede besluit om ’n tafel met ’n pot sop buite hul huis te plaas en verbygangers te voed. Daarna het sy twee keer per week na ’n gebied, Varkplaas, gegaan en kos uitgedeel.

“Die Here het vir my gesê, deel wat jy het,” vertel Mitchell.

Volgens haar het Morne aanvanklik al die koste gedra, maar met die stigting van Bread From Heaven het skenkers na vore gekom en toe kon hulle na meer behoeftiges uitreik.

Mitchell vertel: “Aanvanklik was dit net ’n sopkombuis, maar met die begin van die lockdown in Maart het ons begin kospakkies uitdeel en die Here seën ons nog elke dag meer.”

Hulle het besluit om wyer as Wellington te help en dié week het hulle vir die eerste keer hul vlerke gesprei en na Oudtshoorn gekom.

“Ons het nou ’n span van 18 wat elke dag hul alles gee,” sê Mitchell.

“Dit gaan nie vir my oor wat mense met hul Sassa-geld maak nie: Dit is net ’n lekker gevoel om te gee en my passie uit te leef.

“Die Bybel sê diegene wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.”

Die kospakkies is Maandag uitgedeel aan oud- en huidige werklose Colle­gians-klublede en uitgesonderde inwoners van Bridgton, Rose Valley, Riemvasmaak en Ou Lokasie. Die 50 brode is aan inwoners van die GG-kamp oorhandig.

Die voorsitter van Collegians, Ronnie Lucas, bedank Bread From Heaven.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters