Verlede maand
Man floreer ná dwelmnagmerrie
trots: Aubin Alexander (regs) en sy ma, Lilly van Wyk.Foto: ENRICO CLAASSEN  ~ 

WORCESTER. – Hy was maar net 15 jaar oud toe sy dwelmhel begin het. Dié hel het 16 jaar van sy lewe gesteel.

Die dwelmverslawing van Aubin Alexander (42) van Roodewal het later so handuit geruk dat hy die duur, fancy klere wat sy ouers hom met hul swaar verdiende geld gekoop het, stuk vir stuk verkoop het om sy drug habit te feed.

Vandag, ná intense rehabilitasie, die onvoorwaardelike liefde en support van sy ouers en ’n onwrikbare geloof, is die einste Alexander sy gemeenskap se pride and joy.

Inpas

Hy het ontluik in ’n mentor en staan die afgelope ses jaar aan die hoof van Huis Morea in Worcester – ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmverslaafdes en diegene wat die bendelewe vaarwel wil toeroep.

Alexander sê hy het drugs begin doen oor hy wou inpas by ’n kliek toe hy maar in gr. 8 was.

Hy sê: “Almal het gebrag oor hoe hulle naweke bier drink en clubs toe gaan. Ek het uit gevoel, want ek het dit nie geken nie.”

Volgens hom het hy begin eksperimenteer met dagga. Later was dit Mandrax en toe ook tik. Hy sê hy het nooit gedink die drugs gaan hom op ’n plek bring waar hy niks het nie.

Alexander sê toe hy 17 jaar oud was, was hy verslaaf aan dwelms. Volgens hom het sy dwelmgebruik toe ’n regular ding geword.

“Ek het aggressief geraak as ek nie geld in die hande kon kry vir drugs nie. Ek het my vuiste teen die muur geslaan en ’n gat in die deur geslaan.”

Volgens hom het hy die huis omgekeer en koppies gebreek. Hy sê sy ma het baie mooi gordyne gehad en hy het dit ook gesteel.

Hy vertel sy drug habit het voortgeduur – selfs toe hy ná skool by die Bellville Tegniese Kollege motor mechanics gaan studeer het.

Volgens hom het die mense by wie hy loseer het, hom in sy eerste jaar uit hul huis geskop omdat hy gereeld dronk en gerook by die huis aangekom het.

Hy sê toe hy terug is in Worcester het dinge net erger geraak. Volgens hom het hy begin inbreek by huise en mense ingeloop.

“Ek het as gevolg van my addiction my klere begin verkoop. Ek het van die beste brands gehad.”

Hy sê op ’n dag in 2013 het hy ’n vriend van hom raakgeloop wat saam met hom drugs gebruik het.

Volgens hom was dié vriend destyds net so brandmaer soos hy, maar dié keer was hy (die vriend) spekvet.

Alexander sê dis toe dat sy vriend hom vertel van die Changemakers by die Toevlug-rehabilitasiesentrum. Dit is ’n geestelike organisasie wat onder andere met dwelmverslaafdes werk.

Hy het toe ingeskakel by die program en vandag is hy vir altesame agt jaar skoon. Vandag is hy die huisbestuurder van Huis Morea, hy is gelukkig getroud en het drie kinders.

Uitken

Alexander se ma, Lilly van Wyk (63), sê dit was ’n moeilike tyd.

Sy sê snags wanneer sy so die polisie-sirenes hoor, dan is sy bang die polisie kom sê haar sy moet haar kind se lyk kom uitken.

“Daar was tye dat ek wou opgee.

“Ek het al vir hom gesê: ‘Die Here kan jou maar kom haal. Ek kan nie meer nie.’

“Party dae was ek soos ’n zombie by die werk soos ek worry oor waar hy is.

“Ek het gewonder of dit dan nooit gaan ophou nie, maar ek het aanhou bid.”

Van Wyk sê vandag is sy so trots op wat haar seun vermag het.

“Toe hy op ’n dag vir my sê hy het sy hart vir die Here gegee, toe sê ek hom: ‘Dis een Man met wie jy nie moet speel nie, want as Hy jou slaan, dan slaan Hy jou hard. Behou jou geloof; dis ál wat jou gaan staande hou.’ ”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters