Verlede maand
Ma werk hard, word teacher
MOOI SO! Natasha Dietrich wys die graad wat sy verwerf het.  ~ Foto Verskaf

’N MA van Belhar wat ’n skoonmaker by die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) was, is vandag ’n onderwyser wat wiskunde en algebra by ’n laerskool gee.

Natasha Dietrich (47) is ’n ma van twee kinders en sy het in Mei verlede jaar haar graad verwerf.

Sy is sedert Januarie ’n onderwyser by die Primêre Skool Dr. Van der Ross in Belhar.

“Ek was ’n casual werker en is vas aangestel in 2014. Studente het studeer en ek was omring in ’n omgewing van mense wat verder leer.

“Ek het gesien hoe studente onder moeilike omstandighede leer en deurdruk. As hulle dit kon doen, kon ek ook.”

Dietrich het net matriek gehad en in 2015 het sy aanlyn geregistreer.

Sy sê sy was effens bang en het besef sy sal nou moet werk én studeer.

Sy het in die dag klas geloop en smiddae 15:00 begin met haar skof van agt uur. Sy het die meeste van haar studietake saans gedoen.

Sy vertel sy het volle ondersteuning van haar kinders en haar man gekry en hulle is trots op haar wat so hard gewerk het.

“Ek het geweet ek moet iets doen en dat ek ’n verskil kan maak. Ek kom uit ’n arm gemeenskap en daar is baie werkloosheid en bendes.”

Sy het toe besluit om onderwys te swot.

“Dis die beste rigting wat ek kon kies. Ek is omring deur kinders en die geleentheid om hulle te kan leer, is die beste ding.”

Manie Regal, uitvoerende direkteur van finansies en dienste by UWK, sê Dietrich se prestasie is uitsonderlik en dit spreek van haar vasberadenheid.

“Dit vat baie vasbyt en harde werk om so ’n moeilike graad klaar te maak. Wat so lekker is, is dat sy suksesvol daarin was om haar lewe te verander.

“Haar storie is een van vele suksesverhale by UWK waar iemand ten spyte van hul omstandighede opvoeding kry.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters