2 maande gelede
Ma is champ
worskoningin: Yvonne Blaauw wys haar wors, waarvan sy die resep vervolmaak het. Foto’s verskaf  ~ 

WELLINGTON se wors smaak die heel beste in die land.

Dis nou nadat Yvonne Blaauw, ’n ma van dié dorp, Woensdag aangewys is as Shoprite en Checkers se kampioenboereworsmaker.

Die hele Suid-Afrika sal haar lekker wors vanaf 14 September kan koop.

Blaauw sê: “Dis ongelooflik om die kompetisie te wen.

“Ek het so lank as wat ek kan onthou aan my resep gewerk om dit perfek te maak. Om te weet my boerewors is die beste in die land is net ongelooflik.”

Sy het ’n Toyota Hilux van meer as R500 000 gewen.

Jean Drotsky van Pretoria was tweede en Bobby Hassen van Randgate derde.

Die naaswenners het hampers ontvang van die borge, asook geskenkbewyse van Shoprite en Checkers.

Die voorste 10 boereworsmakers het Woensdag in die eindronde in Kaapstad alles uitgehaal voor ’n paneel kenners van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Sjefs (Saca).

Bakkies Botha, die oud-Springbok-rugbyspeler, is ’n groot boereworsliefhebber en hy was ook daar.

Botha sê: “Hulle sê altyd rugby bring mense bymekaar. Maar ek sê dis boerewors wat mense saam bring.

“Vir my is dit ’n aanbieding van passie, kultuur en tradisie.”

Shoprite en Checkers sê hulle is trots op Suid-Afrika se boereworstradisie en vier dit elke jaar met dié gewilde boereworskompetisie.

Vanjaar was die 26ste keer dat dit aangebied is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters