25 dae gelede
Landdros, cops bemoedig leerders
INSPIRASIE: AO Isaac Kamfer (links), Jannie Swart (skoolhoof), Dmitri Mitchell en sers. Henry Moses het die leerders kom inspireer. Die maskers is net vir foto-doeleindes afgehaal.  ~ Keith Meyer

LADISMITH. – “Korttermyn-glorie veroorsaak soms langtermyn-probleme.”

Met dié woorde het die nuut aangestelde landdros Dmitri Mitchell (31) leerders by Towerkop Primêr betower en gemotiveer om van misdaad weg te bly. Mitchell is aangestel as hoof van die hof hier – die jongste in die Wes-Kaap en bes moontlik die land.

Volgens sers. Henry Moses, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, is dit die eerste keer dat ’n landdros leerders hier toespreek. Mitchell was saam met ’n groep geestelik bevryde polisiemanne wat misdaad met gospel bestry.

Die dinamiese Mitchell het leerders aangemoedig om hul drome na te jaag en gesê moeilike omstandighede moet hulle nie terughou nie.

Verkeerde

“Tough times don’t last, tough people do. Ek weet hier voor my staan advokate, polisiemanne en -vroue, Springbokspelers en enige beroep wat jy kan kies.

“Jy het ’n lopersleutel in jou hand. Maar pasop om verkeerde deure oop te sluit.

“Later is jou sleutel so dat jy net ’n tronksel daarmee kan toesluit. My deur staan oop vir julle om met my of die polisie te kom gesels oor jul uitdagings.

“Ons is nie hier om gevrees te word nie, maar julle moet daarna streef om nie met die gereg te bots nie. Ons het volle vertroue in julle.”

Sers. Bennet de Wee het leerders gewaarsku om weg te bly van dwelms: “As julle weet van misdaad, meld dit aan. Jy is nie ’n piemper nie, jy kies teen korrupsie.”

Sers. Henry Moses het leerders gemaan om nie runners vir drug merts te wees nie.

Konst. Jeandré Rooi het leerders geestelik versterk en AO Isaac Kamfer het gemaan teen boelies op skool.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters