3 maande gelede
Laitie vat sy cue en skitter
FOKUS: Joshua Muller wys hoe doen mens dit.  ~ Jonathan Lestrade

TALENT het geen ouderdomsbeperking nie.

Vra maar vir Joshua Muller (8) van Lentegeur in Mitchells Plain – hy is die lewende bewys hiervan.

Joshua, ’n gr. 3-leerder van Jamaica Way Primêr in Portland, is een van die jongste pool-spelers wat gekies is om aan die nationals deel te neem.

Wat sy verhaal nog interessanter maak, is dat die jong mannetjie eers twee maande gelede begin pool speel het.

Sy trotse ma, Monique Muller (36), vertel aan Son dat sy belangstelling random was en hy het nie eens geweet dat hy so goed is nie.

“Hulle was by die skool toe die onderwyser hulle toegelaat het om ’n game te speel. Dis toe dat hy opgemerk is.

“Hulle het my dadelik gekontak en meegedeel dat hy gekies is as deel van ‘die sterkes’.

“Van daai dag af was hy lid van die ‘Pool For Change Club’, by Pool International in Colorado Park.”

Joshua staan met die pool-stok styf teen hom terwyl sy mammie oor sy prestasies praat.

“Dit maak my gelukkig,” chime hy in voordat hy ’n shot vat.

Monique voeg sy is baie trots op haar seun, maar sy was ook baie geskok toe sy sien hoe goed hy eintlik speel.

“Hy het pas aan die begin van die maand begin oefen en hy is reeds gekies om deel te neem aan die nasionale kompetisie in Julie.

“Hy gaan in die onder- 15-span speel.

“Hy is die jongste in daardie span!”

Drome

Sy voeg vinnig by dat sy baie vertroue het in wat Joshua nog kan bereik.

“Ek is so trots dat ek dit nie genoeg kan sê nie.

“Hy was nog altyd ’n kind wat vir sy drome gegaan het en wanneer hy dit doen, gaan hy voluit.”

Joshua sê sy droom is om ’n professionele pool-speler te word.

Die klonkie se vaardighede intimideer selfs sy uncles wat amper drie keer sy ouderdom is.

“Ek is mal oor hierdie sport!” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters