Verlede maand
Laerskooltjie se leerders glimlag breed ná skenking
SAMARITANE: Leerders is nie min opgemaak met die skenkings van die departement korrektiewe dienste in Oudtshoorn nie.  ~ Garnett Wicomb

DIE vreugdevure brand steeds hoog by die Rooirivier VGK Primêre Skool nadat die Oudtshoorn- Korrektiewe Sentrum dié skool aangeneem en skooluitrustings, ’n stel met twee maskers asook ’n gesonde kospakkie aan 33 leerders oorhandig het.

Volgens Jolandy Claasen, maatskaplike werker by die sentrum, skenk die sentrum jaarliks skooluniforms aan geïdentifiseerde skole in die area.

Die sentrumhoof, Phillip Busch, sy bestuurspan en personeel het vanjaar besluit om ’n skool in die distrik te kies.

Behalwe vir die skooluitrustings sal die sentrum die skool regdeur die jaar ondersteun.

Die Rooirivier VGK Primêre Skool is ’n plaasskool op die pad na Willowmore, sowat 35 km van De Rust.

Daar is net twee opvoeders.

Die skool bestaan uit twee klaskamers, ’n kantoor, ’n kombuis en toiletgeriewe.

Elke opvoeder onderrig drie grade en van die leerders stap daagliks so ver as 4 km om by die skool te kom, sommige van hulle kaalvoet.

Ontvang

Die meeste van die leerders is kinders van enkelouers en plaasarbeiders wat op staatstoelaes staatmaak.

Die skooltjie se 33 leerders het volgens Claasen almal volle somer- en winterskooluitrustings ontvang.

Die projek is ’n inisiatief wat die Suid-Kaapse areakommissaris van die departement korrektiewe dienste, me. Ndileka Booi, agt jaar gelede begin het.

Volgens haar is opvoeding ’n basiese reg en om nie ’n skooluniform te besit nie moet kinders nie daarvan ontneem om die skool by te woon nie.

Die personeel van die Oudtshoorn Korrektiewe Sentrum het soos in die verlede weer hand in die sak gesteek vir ’n finansiële bydrae om die skoolklere aan te koop.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters