4 dae gelede
KYK: Klas help kids
PASSIEVOL: Gwen Phillips sê haar einddoel is om te verseker dat vroeë skoolverlating bekamp word en dat elke kind in haar gemeenskap kan lees en skryf.  ~ Jonathan Lestrade

“JULLE kán!”

Dís die motiverende woorde wat die jong skoolkinders by die Clever Bears-tuiswerkklas in Macassar daagliks hoor.

Vir Gwen Phillips, die stigter van die organisasie, is dit belangrik om kinders se selfvertroue op te bou sodat hulle die wêreld in die oë kan kyk en self hul uitdagings kan aanpak.

Phillips sê sy bedryf die program sedert 2011 toe sy besef het daar is ’n groot nood in die gemeenskap vir kinders om ’n veilige plek te hê waar hulle hul tuiswerk kan doen.

“Ek het eers by my huis begin nadat my eie seun met sy tuiswerk gesukkel het. Ek het toe gedink daar is dalk ouers wat nie die skoolwerk verstaan of nie die tyd het om hul kind te help nie.

“Ek besef ook daar is altyd wrywing tussen kinders en ouers.”

Phillips sê sy het in Junie 2019 ’n struktuur gekoop en dit op ’n gedeelte van ’n kerk se grond opgerig waar sy tans klasgee.

“Ons is dankbaar vir die ruimte wat die kerk aan ons gee, veral omdat ons nou sien hoe baie die behoefte aan so ’n projek gegroei het.

“Baie kinders is nie bevoorreg om e-schooling te kan doen nie. Ouers kan nie data bekostig nie en die kinders raak verlore in die sisteem,” sê sy.

Phillips sê deur haar organisasie wil sy probeer keer dat kinders op ’n jong ouderdom al dropouts word.

“Baie kinders verlaat skool omdat hulle nie die skoolwerk verstaan nie en die ouers het nie die geld om ’n tutor vir hulle te kry nie.

“So, wat ons hier doen, is ’n baie klein deel om te verseker dat daar minder vroeë skoolverlaters is,” sê sy.

Phillips sê daar is twee groepe kinders wat daagliks na die klas toe kom. Sy het ook twee onderwyseresse wat die kinders met hul skoolwerk help.

“Ons vra ’n klein fooi omdat die onderwyseresse betaal word en vir ons huur.”

KOM ONS LEER: Phillips en twee onderwyseresse maak seker die jong skoolkinders doen hul skoolwerk en leer elke dag iets nuuts. Foto: Jonathan Lestrade

Sy sê daar was al ’n paar inbrake wat hulle teruggesit het en daar is nog baie werk wat aan die gebou gedoen moet word om dit ordentlik te beveilig.

“Tans benodig ons sanitasie en elektrisiteit sodat ons die plek op standaard kan bring.

Gehelp

“Ons benodig ook rekenaars sodat ons toegang het tot die internet, want dit sal dit makliker maak om skoolwerk op te soek.”

Tans bring die kinders hul tuiswerk van die skool af en word daarmee gehelp voordat hulle huis toe gaan.

DANKBAAR: Benita Adams (links) en Rene Peters is maar te bly dat hul kinders die geleentheid kry om ondersteuning te ontvang by Clever Bears. Foto: Jonathan Lestrade

Phillips sê haar einddoel is om in elke gemeenskap so ’n program te hê sodat kinders die geleentheid het om te leer, maar ook om die vroeë skoolverlating heeltemal te bekamp.

“ ’n Kind moet kan lees om sy eie lewe te verbeter. As hy dít doen, beweeg hy op ’n ander vlak en ’n ander wêreld en so bereik hy sy drome,” sê sy.

  • Enige iemand wat Phillips wil ondersteun, kan haar bel by 073 891 8129.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters