2 maande gelede
KYK: ‘Jaag jou sukses’
dis oukei: Son se Shantel Moses aan die woord.  ~ 

STELLENBOSCH. – Sowat 200 matrieks van die hoërskole Lückhoff en Silverstream woon tans ’n winterskool by om hulle ’n hupstoot te gee vir die komende eindeksamen.

Dié winterskool is ’n ini­siatief van Son en die tydskrif Kuier om leerders te help met hulle voorbereiding vir die eksamens.

Son se Shantel Moses het Woensdag ’n draai gaan maak om die leerders moed in te praat en te vertel dat dit nie eintlik so erg is nie.

Moses het die groep matrieks dadelik in die holte van haar hand gehad met haar vertellinge en deur haar eie ervaringe met hulle te deel.

Sy sê: “Dis oukei, julle. Moenie dat jou omstandighede jou terughou nie.

“Vat my as ’n voorbeeld. Hoe lank het dit dan vir my gevat om dit te kom regkry om verder te gaan studeer?

“Toe was ek al 25. Eintlik die ouer girl onder die groep, maar hier is ek as joernalis.”

Begrip van eie omstandighede het in talle matrieks se oë kom lê.

Hulle het aan Moses se lippe bly hang en het spontaan vrae gevra.

Van die gewildste vrae wat gevra is, is: “Hoe handle jy dit? Elke dag?

“Die dinge wat jy sien?

“Wat jy ervaar?”

Hierop het Moses vertel hoe juis al hierdie dinge boublokke is om jou karakter te bou en jou lewe balans te gee. En dat dit ook ’n rigtingwyser word na sukses.

Julian Jansen, ’n verslaggewer van die Sondagkoerant Rapport, het ook kom inloer.

Vir Jansen was die uitnodiging om met die matrieks te kom praat, ’n paar oomblikke van nostalgie.

Hy was voorheen ’n onderwyser wat voor klasse vol leerders gestaan het en kennis oorgedra het.

Jansen sê daaroor: “Dit was ’n emosionele reis.”

Sy boodskap aan die leerders: Bly gefokus, kry jou kop reg en jaag jou sukses.

Wat vir hom lekker was, was om te sien hoe die leerders elkeen kon wegstap met ten minste een boodskap van hoop vir hulle toekoms.

Juis daarom sê Moses en Jansen, het hulle baie hoop vir dié groep matrieks. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters