25 dae gelede
KYK: Goedhartigheid gee hoop
VOL SMILES: Wendy en haar dogter Wendy-Lee Sophat (10) is dankbaar vir die klere, kos en ander items wat hulle ontvang het.  ~ Jonathan Lestrade

SY WAS Maandag moedeloos en hartseer nadat haar huis met ál haar besittings uitgebrand het.

Maar toe Son Woensdag in Scottsdene aankom, het Wendy Sophat weer ’n glimlag op haar gesig gehad.

Al het sy en haar familie van ses alles verloor toe die brand hul bungalow en twee ander families s’n verwoes het, glo Sophat hulle sal gou weer op hul voete kom.

“Ek voel beter as Maandag. Dit was nie ’n lekker gevoel toe ek sien my hele plek met al ons goed het uitgebrand nie. Dit het my baie hartseer gelaat en ek het overwhelmed gevoel, maar ons is ook dankbaar dat niemand beseer­ of dood is nie.

“Ek het Maandag nie geweet waar om te begin nie. Daar was niks om te red nie. Ons het net die klere oorgehad wat ons aangehad het,” vertel sy.

Die families hoef egter nie lank te gewag het vir hulp nie. Woensdag het Sophat vertel hoe verskeie mense hulle ondersteun het en vir hulle baie broodnodige items gebring het.

HELPENDE HAND: Calvin “The Shackbuilder” Coetzee is onder die mense en groepe wat donasies aan die families kom oorhandig het. Hier is hy by Wendy Sophat. Foto: Jonathan Lestrade

“Die Kraailove-groep was hier om vir ons goedjies te bring wat mense geskenk het, asook kerklede, familielede en die Shackbuilder.

“Ons is so dankbaar vir al die liefde en donasies wat ons ontvang.

Dak

“Dit gaan ons baie, baie help. Dit wys my net dat mense nog omgee en dat daar hulp van orals kom sonder om eers daarvoor te vra. Ons begin nou om oor te begin.

“Ek weet dit gaan nie sommer gou gebeur dat ons alles het soos tevore nie, maar ek het hoop dat ons daar sal kom,” sê sy.

Sophat se sy en haar gesin het nou weer ’n plekkie en is dankbaar vir die dak oor hul kop.

“Ek is net bly my kinders het weer ’n plek. Om weer ’n dak oor ons kop te hê, is waarvoor ons ook dankbaar is,” sê sy.

Die ander familielede was nie by die huis by Son se besoek nie, maar Sophat sê hulle almal sê dankie vir die ondersteuning.

ONDERSTEUN: Wendy en haar dogter is dankbaar. Foto: Jonathan Lestrade

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters