Verlede maand
KYK: Gee die bricks en ek sal bou!
DIE OORSAAK: Ronel Petersen staan by ’n gedeelte van die boom wat op haar huis se dak geval het.  ~ Jonathan Lestrade

DIS nie ’n lekker storie as jy nie ’n dak oor jou kop het nie.

Veral nie wanneer ’n mens aan die elemente uitgelewer is nie.

Die huis van ’n gesin van Sir Lowry’s Pass is vol krake en die helfte van die dak het inmekaargesak nadat ’n groot boom daarop geval het.

Dié verskriklike ongeluk het sowat drie weke terug tydens een van die laaste winterstorms plaasgevind.

Vir Ronel Petersen en haar gesin, wat in die huis woon, is dit ’n baie ongemaklike en onveilige situasie.

“Ons vrees dat die res van die huis kan inmekaarsak omdat die boom dit so erg beskadig het.

“Ek kan ook nie met my kinders so woon nie. Hulle is nog baie jonk. Dit is ook nie goed vir hul gesondheid nie,” sê sy.

Beskerm

Die agterkant van die huis het die meeste skade opgedoen.

Petersen het dit intussen met sinkplaat, planke en plastiek toegemaak om hulle in die nag te beskerm en hul besettings veilig te hou.

“Daar is so baie mense wat gekom, foto’s geneem en beloftes gemaak het om te help, maar ek hoor niks van hulle nie,” sê sy.

Maar Petersen se oproep om hulp het darem nie oral op dowe ore geval nie.

Dit het eindelik uitgekom by Grant Myburgh, wat die #Buyabrick-veldtog gestig het om die inwoners te help wat deur die winterstorm geraak is.

GROOT SKADE AANGERIG: Grant Myburgh loop oor die puin wat agtergelaat is nadat die boom op die huis se dak beland het. Foto: Jonathan Lestrade

Myburgh sê Petersen se huis is een van ’n paar wat onder die swaar weer deurgeloop het, maar hy gaan probeer om almal te help.

“Dit is ’n groot nood vir die mense om hul huise weer op te bou omdat dit onveilig is om so te woon.

“Deur dié veldtog wil ons graag ’n beroep doen op die publiek om ons te help om die boumateriaal te skenk sodat ons dié gesin en ander kan help.

“Ons kan eers met die herbouing begin sodra ons ál die materiaal het.

“Dit is ’n program wat ons hoop mense se aandag sal kry omdat dit die families baie sal help,” sê Myburgh.

KOM ONS BOU: Grant Myburgh probeer boumateriaal bymekaarkry dat hy die gesinne kan help wie se blyplek in storms beskadig is. Foto: Jonathan Lestrade

Petersen sê op haar beurt sy is dankbaar vir die hulp wat sy nou van Myburgh kry.

“Ek is baie gelukkig en tevrede omdat hy nie net promises maak nie en hy wil ons help,” sê sy.

  • As enige iemand die gesin en ander wil help, kan hulle by 083 579 9245 met Grant Myburgh in verbinding tree.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters