16 dae gelede
KYK: ‘Ek is ’n mens van vrede’
LEKKER: Antie Koekie met die lekker potte kos wat sy voorberei vir die jong kinders in haar gemeenskap.  ~ Jonathan Lestrade

SY VOED byna 300 kinders en volwassenes 3 keer ’n week – en sy doen dit alles uit haar eie sak.

Daar is dae dat haar eie kaste leeg is, maar vir die gemeenskap sal sy sorg sonder om te kla.

Vir Roseline Haarhoff (67), beter bekend as antie Koekie, is dit ’n voorreg om vir die Uitsig-gemeenskap kos te berei.

“Ek ken swaarkry en omdat ek ’n kind van die Here is, voel ek ’n kind wat honger is, moet gevoed word en ek doen dit met liefde,” sê sy.

Antie Koekie sê sy verwag niks terug nie, omdat sy weet haar blessings kom van die Here af.

Sy sê daar is dae dat sy meer as 300 kinders voed.

“En ons maak seker dat ons dit só deel dat daar genoeg is vir almal.

“Ons het nog nooit complaints gekry nie.

“Dit was die eerste complaint wat ek gekry het, maar ek worry nie.”

Antie Koekie verwys na ’n storie wat Son laas week gedek het waarin ’n paar inwoners in Uitsig beweer het daar was maaiers in die kos wat hulle by antie Koekie gekry het.

Hulle het verder beweer die klein wurmpies in die kos het die kinders siek gemaak.

“Ek was baie ontsteld toe ek daarvan gehoor het, maar ek is nie kwaad nie.

“Ek mag nie haat nie. Ek is ’n mens van vrede.”

Antie Koekie sê sy fokus maar op wat sy doen en gaan haar nie steur aan negatiewe dinge wat gesê word nie.

Laaste

“Ek weet wie ek is en wat ek doen en waarom.

“My eie kinders het al vir my gesê: ‘Mammie dink nie aan ons wat hier binne moet eet nie, Mammie is meer geworry oor dié daar buite.’ Maar ek maak seker daar is vir hulle ook,” vertel sy.

Antie Koekie sê sy skraap die laaste van wat sy in haar kas het bymekaar om iets vir die kinders te maak.

“Ons skenk elke Maandag, Woensdag en Vrydag kos aan die gemeenskap en die blydskap wat ek ervaar, is wat my gelukkig maak.

“As enige iemand wil help, is hulle welkom. Ons sal dit waardeer as meer mense ons kan ondersteun sodat ons meer mense kan voed.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters