4 dae gelede
KYK: DIY ’n beter môre
STORIETYD: Gennivieve Marques lees ’n verhaaltjie voor vir twee meisies wat daagliks die reading room besoek.  ~ Jonathan Lestrade

GENNIVIEVE Marques se hoofdoel vir haar gemeenskap is om ’n veilige plek te skep waar jong kinders nog kinders kan wees.

Vir Marques (59), van Chestnut Place in Belhar, is dit nie genoeg om net brood en sop uit te deel nie; sy probeer baie meer doen vir haar bure.

“Die lockdown het op baie mense ’n groot impak gehad en dit raak steeds mense.

“Hier is baie inwoners wat hul werk verloor het, bejaardes wat sukkel om brood op die tafel te sit en ander wat nie weet waar om hulp te kry nie,” sê Marques.

Toe die lockdown ingestel is, het Marques amptelik haar eie voedselskema, Caring and Sharing by Gennivieve, begin om terug te ploeg in haar gemeenskap.

“My doel is om niemand weg te wys nie. Ek probeer gee soveel as wat ek kan omdat ek weet mense kry swaar.

“Wat ek graag wil doen, is om die jong mense te uplift en toe te sien dat die kwesbaarste mense, ons kinders en bejaardes, hulp kan kry met kos. Ook om aktiwiteite te vind wat die kinders kan besig hou.”

Marques sê sy het ook ’n leeskamer begin. Sy gebruik die klein saaltjie tussen die flêtse en die kinders is daagliks welkom.

“Benewens die kos wat ek hulle een of twee keer per week gee, is dit ook belangrik dat daar vir hulle aktiwiteite is om hulle van die straat af te hou en hulle met iets positiefs besig te hou.”

Marques sê sy sal aanhou terugploeg omdat Chestnut Place bekend was vir bendeverwante aktiwiteite. Sy wil dié stigma verander.

“Ek wil hê die kinders moet met mooi dinge voortgaan in die lewe,” sê sy.

GEE TERUG: Gennivieve Marques se doel is om soveel mense in haar gemeenskap te ondersteun. Foto: Jonathan Lestrade

Marques het ook ’n groep jong mans aangestel om rondom die flêtse skoon te maak. “Ek probeer almal help waar ek kan. Dwelms en drankgebruik is ’n groot probleem en as ek iets kan doen om jong mense daarvan weg te hou, sal ek.

“Ons kan nie agteroorsit en wag vir die volgende persoon om iets te doen nie. Só sal niks verander nie.”

Marques sê sy is besig om haar organisasie te registreer, maar intussen verwelkom sy enige kosdonasies en enige donasies vir die reading room om die kleintjies in die gemeenskap besig te hou.

Enige een wat Marques wil ondersteun, kan haar kontak by 084 685 1270.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters