Verlede maand
Klong kry kans van leeftyd
BEGAAF: Cohnwille Swarts het vir hom ’n wonderlike geleentheid op universiteit losgeskilder.  ~ Peter Abrahams

ARMOEDE en swaarkry sal nooit in die pad van sukses staan nie.

Vir diegene wat dít nie wil glo nie, Cohnwille Swarts is ’n sprekende voorbeeld van hoe jou drome bewaarheid kan word.

En nou het die deure van sukses behoorlik oopgeswaai vir die supertalentvolle Swarts.

Son het verlede jaar berig oor hierdie matriekklong van die Hoër­skool Schoonspruit wat deur sy sketse die storie van sy lewe vertel.

Ons storie het ’n fantastiese reaksie van ons lesers ontlok. Almal was verstom oor Swarts se talent. Almal wou help.

Swarts se mammie en derra is albei oorlede en sy ouma moet scrap bymekaarmaak om die pot aan die kook te hou.

Dit is hierdie uitdagings wat hy in sy sketse uitbeeld.

Swarts is van Abbots­dale net buite Malmesbury en die nuus oor sy talent het soos ’n veldbrand deur gemeenskappe versprei.

Hy het nou spesiale toelating losgeslaan om vanjaar aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

Die toelating beteken Swarts kan sonder om ’n sent te betaal vir drie jaar sy droom bewaarheid om ’n BA-graad in visuele kuns­te los te skilder.

Opgemaak

In dié drie jaar moet hy net seker maak hy slaag.

Sy mentor en kunsonderwyseres, Celeste Arendse, is nie min opgemaak oor sy prestasie nie.

’N INSPIRASIE: Celeste Arendse glo Cohnwille Swarts se talent gaan nog deure oopmaak. Foto: Peter Abrahams

Arendse verduidelik: “Die universiteitsrektor het Swarts persoonlik by ’n galery in Riebeek-Kasteel ontmoet en hom uitgevra oor sy toekomsplanne.

“Ons was in daardie sta­dium onbewus daarvan dat hy die rektor van Maties is.”

Arendse se trane van vreugde sit vlak in haar oë terwyl sy borrelend vertel van die groot kans wat oor Swarts se pad gekom het.

“Dit gee my soveel moed as ’n onderwyseres, want daar gaan nog Cohnwilles wees.

“So, dit gee hulle ook die geleentheid om die posi­tiewe dinge in die lewe raak te sien.

“Cohnwille het die kunsdeure oopgemaak.”

Swarts kan nie ophou smile terwyl hy oor sy werk en geleentheid praat nie.

“Ek wil graag begin om vir my juffrou en ouma dankie te sê, want hulle het my gepush.

“Ek het nie te veel woorde nie. Ek is net bly dat my familie trots kan wees op my.”

Swarts verklap hy streef daarna om in elkeen van sy werke ’n boodskap oor te dra.

“Dit laat my goed en dankbaar voel dat my werke net so praat met ander wat daarna kyk.

“Die Here is goed! Ek is lus vir die lewe!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters