9 maande gelede
Kindersorg maak baie harte bly
uitkoms: Dankbare ouers ontvang hulle kos hampers.Foto: KEITH MEYER  ~ 

LADISMITH. – Daar is nog “omgee” in die land oor.

Só dink 35 gesinne nadat Ladismith se Kindersorgvereniging kos hampers aan die plaaslike laerskool, Towerkop, gegee het om te versprei.

Juffrou Petrusia Rooi, ’n onderwyser wat deeglike kennis van leerders se behoeftes het, het in samewerking met Kindersorg die leerders geïdentifiseer volgens die behoeftes in hulle huise.

Melissa Plaatjies, maatskaplike werker, Cassy Titus, Daniel Mollie en ander bestuurslede het die geel sakke met die kos hampers afge­lewer.

Daar was groot opgewondenheid en diepe dankbaarheid geskryf op die gesig van ma’s en pa’s wat die hampers kom afhaal het.

Skoene

Zenobia Hess, ’n ouer van drie leerders, sê: “Dankie dat julle omgee.

“Die uitkoms is altyd daar wanneer die nood hoog is. Baie dankie namens al die ouers.”

Alesame 25 leerders wat die laaste maande met verslete skoene skool toe gekom het, het ook die verrassing van die kwartaal gekry toe hulle geïdentifiseer is om aan die burgemeester, Magdalena Barry, se skoeneprojek deel te neem.

Die leerders is met die skool se bussie geneem na Zoar, waar die skoene oorhandig is.

Die daaropvolgende Maandag was daar 25 paar blink-swart skoolskoene wat die terrein platgetrap het.

Stanley Weitz, ’n opvoeder wat die leerders vergesel het, het die dankbaarheid van die leerders oorgedra.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters